Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit moedig inwoners wat onwettig krag verbruik aan om die amnestietydperk van Maandag 23 September tot Maandag 14 Oktober te gebruik om te registreer en binne die wet te bly.
Inwoners wat nie tans vir elektrisiteit betaal nie, kan hul besonderhede registreer sodat hul elektrisiteitsverbruik volgens wet kan geskied. In dié amnestietydperk sal daar nie vrae wees oor waarom ’n inwoner nie tans vir elektrisiteit betaal nie, lui ’n mediaverklaring deur die munisipaliteit.
Inwoners moet slegs hul naam, selfoonnommer, adres en ID-nommer verskaf en hul meters sal dan teen geen bykomende koste herstel of vervang word.
Die doel van die amnestietydperk is om seker te maak dat alle inwoners vir hul elektrisiteitsverbruik betaal. Diegene wat aanhou om elektrisiteit te verbruik en nie daarvoor betaal nie, kan stywe boetes opgelê word.
Die inisiatief vorm deel van die munisipaliteit se pogings om seker te maak dat hulle ’n volhoubare en uitgebreide elektrisiteitsdiens het wat daarop gemik is om die gemeenskap te dien, het die verklaring gelui.
- Eskom het onlangs weer gedreig om die kragtoevoer na die munisipaliteit af te sny omdat hul skuld reeds meer as R400 miljoen beloop.



