Die Pos het reeds verskeie kere berig oor die gevare van dié bebosde en ruig omgewing by die hoofingang na Bela-Bela, wat skuiling aan misdadigers bied en ’n veiligheidsgevaar geraak het.
Daar is tydens ’n vorige veiligheidsvergadering in Julie besluit om die gebied skoon te brand. Dit het gevolg nadat verskeie voorvalle van roof en selfs ’n saak van verkragting by die polisie aangemeld is.
Inwoners van die Bela-Bela-township stap daagliks langs die R516-pad na die Bela Mall vir inkopies of om daar te gaan werk.
Die groot aantal straatligte wat in dié omgewing buite werking is, verhoog die gevaar van misdaad. Oortreders gebruik na bewering die digbebosde gebied om in te skuil.
Hoewel verskeie polisieoperasies in die omgewing geloods is, was dit tot dusver vrugeteloos.
Die Bela-Bela-brandbeskermingsvereniging, asook die Bela-Bela-brandweerdienste, het egter tydens die jongste veiligheidsvergadering op Donderdag 12 September beswaar gemaak teen die beoogde afbrand van die gebied omdat die nasionale verbod op die maak van oop vure sedert Mei van krag is.
Kabelo Mosito, woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit, het by navraag gesê daar is besluit om liefs te wag met die projek tot ná die eerste reënval.
* Die skougrond is jare lank vir vermaak, landbougeleenthede en die ou Warmbad-landbouskou gebruik.
Die huurkontrak tussen die skoukomitee en die Bela-Bela-munisipaliteit het in 2015 verval en die skoukomitee het daarna besluit om nie dié kontrak te hernu nie.
Die skoukomitee het daarna die infrastruktuur wat hulle daar opgerig het, gesloop en as skroot verkoop. Die geld wat daaruit ingesamel is, is vir liefdadigheidsdoeleindes aangewend.



