Die kunsklub van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle hou elke tweede jaar ’n kunsuitstalling van inwoners se werk en vanjaar se uitstalling op Donderdag 12 September was weer ’n spoggeleentheid.

Die werk was van hoogstaande gehalte. Die gaste is deur die loop van die aand getrakteer op heerlike eetgoed wat deur Wilma de Jonge voorberei is. Die strelende musiek van Anri Shephard en Hetta Uys het die aand vervolmaak.
Die swierige blommerangskikkings met clivieas was kunswerke uit eie reg en was die handewerk van Joan Schoeman.
Die gemiddelde ouderdom van die kunstenaars was 78 met Joey Venter (86) die oudste klublid.
Luna du Toit is reeds 28 jaar lid van die klub en het ook die uitsonderlike embleem ontwerp.
Glenda van der Merwe, klubvoorsitter, het gesê sy vertrou dat die geleentheid meer inwoners sal aanmoedig om aan te sluit en hul talente met almal te deel.



