Katrien van Niekerk, haar man James Volschenk, en Van Niekerk se seun, Magnus, huur die afgelope drie jaar ’n huis op ’n plaas buite Mookgophong. Die huis is naby die N1-snelweg en is op Vrydag 20 September deur inbrekers geteiken.
Volgens Magnus, ’n matrikulant van Hoërskool Hans Strijdom, het hy ná die matriekafskeid die vorige aand by ’n vriend oorgeslaap aangesien sy ouers meubels vir iemand na Kosibaai vervoer het. Hulle het teen ongeveer 08:00 vertrek en daarna was niemand tuis nie.
“Ek het die Vrydagaand seker so 22:00 tuisgekom en op die chaos afgekom,” het hy gesê.
Die inbrekers het die huis geplunder op soek na vermoedelik geld en waardevolle items. Al Magnus se klere, skoene en ’n resiesfiets is gebuit. Hy is ook baie hartseer oor sy troetelslang wat met ’n waterkan doodgeslaan is. Hy het nóg ’n giftige slang in ’n glaskas, maar dié is ongedeerd.
Die inbrekers het ’n groot ruit van Magnus se slaapkamer stukkend geslaan om in te kom en by ’n kombuisvenster uitgegaan. Die gordyne is stukkend geskeur en ’n ou platespeler is gebreek. ’n Antieke buffet se deurtjies is stukkend geskop.
“Hulle het tot Magnus se rugbytrofeë gebreek en in stukkies gelaat,” het Katrien aan Die Pos vertel.
Twee woonwaens wat by die agterdeur staan, se vensters is gebreek, maar niks is gesteel nie.
Van die gesteelde klere en enkele items is buite in die bosse opgetel.
Talle mense in die omgewing het skenkings aan die gesin gemaak nadat die nuus van die inbraak op gemeenskapsgroepe gedeel is. Magnus het geen skoolklere vir die laaste kwartaal van sy skoolloopbaan nie en selfs sy pennesakkie met sakrekenaar is weg.
’n Vriend van die gesin, Buks Viljoen, het hulle intussen gehelp om die diefwering te vervang.
Teen druktyd was die booswigte nog op vrye voet.



