Toegewydheid met toekenning beloon
“Kanker kom baie algemeen voor. Mense besef nie dat hul leefstyl en wat hulle eet ’n groot invloed op hul gesondheid het nie.”
Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het vir Wilna van den Heever van Modimolle beloon vir haar jarelange ondersteuning aan kankerpasiënte.
Sy het ’n silwer toekenning ontvang vir die uitstekende diens wat sy gelewer het in die organisasie se noordelike eenheid wat Limpopo, Noordwes en Gauteng insluit.
Van den Heever is op sewentig energiek en hard aan die werk as gemeenskapsmobiliseerder vir Kansa se Modimolle-tak. Die titel pas haar perfek, want sy kry dit reg om mense hul moue te laat oprol en te help.
Van den Heever en haar staatmakergroep vrywilligers loop die kankerpad saam met kankerlyers en ondersteun hulle en hul families. Van den Heever het self twee keer ’n stryd teen kanker gevoer.
“Kanker kom baie algemeen voor. Mense besef nie dat hul leefstyl en wat hulle eet ’n groot invloed op hul gesondheid het nie.”
Van den Heever, ’n opgeleide verpleegster, se werk sluit ook opleiding deur mediese inligtingsessies, ondersoeke en pasiëntesorg in. Die organisasie maak staat op fondsinsamelingsprojekte. Haar werk is wyd en neem haar dikwels na vier provinsies.
Oor haar sertifikaat en blink beeldjie is sy baie beskeie.
“Daar staan altyd ’n 100 mense agter my wat hard werk; ek staan nooit alleen nie.”



