Local newsNews

Gesin dankbaar vir gemeenskap se hulp

“’n Mens weet nie hoe vinnig jou lewe kan verander nie, maar in ons geval het Dominique ons lewens positief verander.”

Die dokters by die Warmbad-hospitaal het destyds bykans geen hoop gehad dat Dominique Walton haar eerste paar dae op aarde sou oorleef nie.

Kort ná haar geboorte in November 2017 is bevestig dat sy serebraal gestremd is.

Danky dié klein vegtertjie se ouers, Chantelle en Jody Walton en haar familie se volgehoue liefde en aandag, vier Dominique einde November haar tweede verjaardag.

Jody werk vir ’n veiligheidsonderneming in Bela-Bela. Chantelle het ’n nasorgsentrum bestuur, maar moes haar pos prysgee om voltyds vir Dominique te sorg.

“’n Mens weet nie hoe vinnig jou lewe kan verander nie, maar in ons geval het Dominique ons lewens positief verander,” het Chantelle gesê.

“Haar behandeling, medikasie en die ritte na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria is ongelooflik duur. Ons het besluit om haar nie na ’n inrigting te stuur nie omdat ons gevoel het dat sy al die liefde en aandag by die huis kan kry.”

Chantelle het komplikasies tydens Dominique se geboorte ondervind en haar hart het twee keer gaan staan. Sy en Dominique het mekaar eers 10 dae later in die Warmbad-hospitaal ontmoet.

Dominique se gesondheid het ’n maand ná haar geboorte drasties verswak. Die gesin moes hul sedert Desember 2017 meer as 30 keer met Dominique na ’n hospitaal vir noodbehandeling haas. Sy hou soms op asemhaal, gooi aanhoudend op en raak met tye bewusteloos.

Sy het reeds talle operasies ondergaan en kry voeding deur ’n buisie in haar maag.

Haar spiere is só verswak dat sy nie soos babas van haar ouderdom kan beweeg of selfs haar kop kan optel nie. Sy benodig ook chroniese medikasie en suurstof om haar toestand te beheer.

“Ons almal raak by tye fisiek, geestelik en emosioneel moeg, maar daar is tye wanneer ons lag. Dominique is baie beter as wat sy destyds was,” het Chantelle gesê. “Ons groot bekommernis is wanneer haar medisyne skielik opraak omdat die staatshospitale nie voorraad het nie.”

Weldoeners staan die gesin sedert Dominique se geboorte by met toerusting en ander benodigdhede waarvoor haar gesin baie dankbaar is.

Chantelle het gesê die gesin se uitgawes wentel om Dominique se medikasie, behandeling en brandstof om maandeliks na Steve Biko-hospitaal in Pretoria te ry.

Die gesin het twee ander kinders, Arthur (14), ’n leerder aan die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys in Modimolle, en Lee-anne (8), ’n leerder aan Laerskool Warmbad.

“Ons is baie dankbaar vir almal se hulp,” het Chantelle gesê.

Weldoeners wat tot Dominique se sorg wil bydra, kan vir Chantelle bel by tel. 060 743 0966 of haar ma, Laetitia, by tel. 078 544 0951, of vir Billy van Rensburg by tel. 083 448 6850.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button