MunicipalNews

Inwoners boos oor aanlynkrag-aankope

Geen voorafbetaalde kaartjiekrag kan vanaf Dinsdag 1 Oktober aanlyn gekoop word nie.

Dié aankondiging het die afgelope week vir groot ontsteltenis onder inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gesorg. Dit sluit Modimolle, Mookgophong en Vaalwater in.

Die stap is glo nodig om al die gate in die emmer toe te stop waaruit geld wat vir Eskom bedoel is, verdwyn het.

Voorafbetaalde krag is nou slegs by die munisipale kantore en sekere sakeondernemings te koop.

Marlene van Staden, burgemeester, moes behoorlik bontstaan om inwoners se navrae op diensleweringsgroepe te hanteer. Die vorige diensverskaffer wat voorafbetaalde kragverkope vir dié munisipaliteit hanteer het, CigiCell, is ernstig in die nasionale tesourie se forensiese verslag na die munisipaliteit se finansies geïmpliseer. (Die Pos het vroeër breedvoerig hieroor berig.)
“Die onlangse forensiese verslag het aanbeveel dat die munisipaliteit ’n kriminele en siviele klag teen die diensverskaffer lê, onder meer omdat hulle nie die munisipaliteit van maandelikse bankversoeningstate rakende elektrisiteitsverkope voorsien het nie.

“Die munisipaliteit het sy verhouding met CigiCell beëindig en slegs ’n groep uitgesoekte handelaars is aangewys om elektrisiteit namens die munisipaliteit te verkoop. Die verkoopsooreenkoms is nou direk tussen die munisipaliteit en die handelaars,” het Van Staden gesê.

Volgens haar is die doel van die strenger maatreëls om stelsels in plek te kry om te verseker dat elke sent wat inwoners aan elektrisiteit bestee aan die munisipaliteit betaal word om sy agterstallige Eskom-rekening, wat meer as R450 miljoen beloop, te betaal. Eskom dreig die afgelope twee jaar kort-kort om die kragtoevoer na al die dorpe in dié munisipaliteit af te sny weens uitstaande skuld.

Aanlynbetalings sal volgens Van Staden op ’n later stadium weer beskikbaar wees.

Inwoners het die afgelope week steen en been gekla dat die kennistydperk van minder as 48 uur te kort is en dat dit moeilik sal wees om krag te koop as dit in die middel van die nag op raak.

Nog ’n inwoner het gesê dat hy vir iemand anders krag aankoop en nie self in die dorp woon nie.

In Vaalwater kan voorafbetaalde krag aangekoop word by Viva SuperMart, Mali Superstore, Price Paradise en Puma Garage. In Modimolle is dit beskikbaar by Choppies, Caltex-, Sasol-, en Vooma-vulstasies, Cross Road Supermarket, Mohapi Trading, Peter’s Corner, Cheap Price en Uitbreiding 10 Phadimang. In Mookgophong kan krag gekoop word by die MBT-vulstasie, Teddy Truck Stop en Viva Roedtan. Voorafbetaalde krag is ook by die onderskeie dorpe se munisipale kantore beskikbaar.

Van Staden het gesê die munisipaliteit het, as deel van hul pogings om te verseker dat Eskom betaal kan word, ’n toegewysde rekening vir elektrisiteitsbetalings apart van ander munisipale rekenings geskep. Dié stap was glo een van die redes waarom Eskom besluit het om nie voort te gaan met stappe om die kragtoevoer te sny nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button