
Sers. Humbulani Mulaudzi (39), konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33), konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) en konst. Simon Sebelebele (40) is in September 2018 deur die Inspektoraat vir prioriteitsmisdade (Die Valke) in hegtenis geneem en aangekla van korrupsie, gewapende roof en ontvoering.
Die klagtes spruit uit ’n voorval waar die vier na bewering ’n man vanaf ’n plaaslike dobbelhuis na ’n verlate plek buite Bela-Bela geneem en omkoopgeld van hom geëis het. Die beamptes het na bewering die man gedreig met ’n aanklag van geldwassery indien hy nie sou opdok nie, het ’n woordvoerder van die Valke destyds gesê.
Die omkoopbedrag was na bewering R190 000.
Borgtog van R5 000 elk is in Oktober 2018 in die Bela-Bela-landdroshof aan die mans toegestaan, waarna hulle teruggekeer het werk toe.
Daar is egter besluit om hulle af te dank nadat die polisie ’n interne dissiplinêre proses voltooi het.
Die saak het sedertdien in die Modimolle-streekhof voortgeduur.
Die vier se verhoor begin op Woensdag 13 November. Hulle borgtog is verleng.



