MunicipalNews

Só gaan hul kragprobleem aanpak

’n Vergadering in Modimolle het meer lig gewerp op planne om die munisipaliteit se kragkrisis op te los.

Pieter van Staden van EMS Lingani, die nuwe kragverskaffer, het tydens die vergadering aan inwoners van wyk 12 verduidelik hoe dié maatskappy beoog om in te gryp by die dorp se elektrisiteitsverskaffing.

Die vergadering is op Dinsdag 17 September gehou en was die eerste van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP)-
vergaderings.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, is die GOP-proses nou in sy eerste fase waarin ontleding gedoen word. Die munisipaliteit moet vasstel watter dienste tans beskikbaar is en hoe om dit te verbeter. Die volgende vergaderings volg in Maart en April aanstaande jaar waar daar besluite geneem moet word oor begrotings en projekte.

Volgens Van Staden (Pieter) is die maatskappy reeds vyf jaar lank in die Mafube-munisipaliteit (Frankfort) waar hulle die elektrisiteitsdepartement namens die munisipaliteit bestuur.

In die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit sal dit slegs vir ’n drie jaar tydperk saam met die munisipaliteit bestuur word. Aan die begin sal hulle baie betrokke wees en personeel oplei en daarna geleidelik onttrek.

Personeelopleiding is ’n groot taak en daarna moet dieselfde hoë standaard gehandhaaf word, het hy gesê. Hy het gesê daar moet ’n drieledige proses gevolg word om elektrisiteitsverskaffing en dienslewering te verbeter. Eerstens moet al die netwerk se bates ge-oudit word. Die groep het reeds die dorpe verken en foto’s van al die elektriese komponente geneem, ’n nommer toegeken en aangeteken in watter toestand dit is sodat daar boek gehou kan word. Tweedens moet daar weer na tariewe gekyk word sodat dit in lyn is met grootmaatverskaffing, byvoorbeeld ’n hoër tarief in besige tye.

Derdens moet tegnologie ingespan word sodat die munisipaliteit die netwerk self kan bestuur. ’n Rekenaarstelsel sal onmiddellike inligting aan die munisipaliteit kan verskaf oor meters en kragverbruik in verskillende dele van die dorp. ’n Kliëntediensportaal sal geskep word waar inwoners probleme kan aanmeld en vorige rekenings kan nagaan.

Een van die groot probleme wat die munisipaliteit volgens hom het, is dat die grootmaat Eskom-rekening R169 miljoen beloop (sonder rente) en die inkomste slegs R129 miljoen is. Om dié probleem op te los, sal ’n gereserveerde rekening vir slegs Eskom-betalings geskep word waar dit apart is van ander munisipale inkomstes en betalings. Uit elke 100c sal 60c aan Eskom betaal word.

“Dié stap was een van die redes waarom Eskom besluit het om nie voort te gaan met onlangse drastiese stappe teen die munisipaliteit nie,” het hy gesê.

Die maatskappy het glo R35 miljoen uit hul eie sak beskikbaar gemaak vir elektrisiteitsmeters wat vervang moet word en om die nodige tegnologie in plek te kry.

“Elke werker sal ’n werkkaart kry wat die tyd wat daaraan bestee word, aandui. Daar sal ook boek gehou word van alle voorraad wat op voertuie gelaai word.

“Ons sal elke twee maande terugvoer aan inwoners gee oor die vordering van hierdie projek,” het Marlene van Staden gesê.

  • Ander probleme wat die inwoners van wyk 12 geopper het, was die tekort aan vullisdromme, straatligte wat nie werk nie, die swak toestand van Maroelastraat, die verlate huis in Wolmaransstraat wat aan die departement van openbare werke behoort en die tekort aan wetstoepassing wat die verkeersdepartement betref.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button