’n Inwoner het op Woensdag 2 Oktober teen ongeveer 05:30 ’n verdagte vragmotor by Renosterpoort in die Alma-omgewing opgemerk en die polisie geskakel.
Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, is die bestuurder van die voertuig vasgetrek, maar die passassier het op die vlug geslaan. Die bestuurder is in hegtenis geneem op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en ook gesteelde toerusting wat in huisbrake gebruik kan word. Van die items wat in sy besit gevind is, sluit glo ’n breekyster, handskoene, ’n rugsak en gasbranders in.
“Een van die werkers wat saam met ’n boer op die toneel was, het die items herken en gesê dat dit afkomstig is van die plaas waar hy woon,” het Findlay gesê.
Die man wat op die vlug geslaan het, se spore is gevolg en hy is laatmiddag in hegtenis geneem.
“Die vragmotor word intussen by die polisiestasie gehou en vorm deel van die ondersoek,” het Findlay gesê.
“Die grondpad lei na Bela-Bela se kant toe en die verdagtes kan moontlik met verskeie diefstalsake in Modimolle en Bela-Bela verbind word,” het Findlay gesê.
Die twee mans, wie se identiteit nog nie bekend gemaak is nie, het op Vrydag 4 Oktober in die hof in Modimolle verskyn. Die saak is vir sewe dae uitgestel vir verdere ondersoek.



