Brand buite Bela-Bela amper ’n groot katastrofe
’n Wegholbrand het op Dinsdag 8 Oktober verwoesting oor ’n groot gebied in die omgewing van die Thabazimbi-pad (R516) buite Bela-Bela gesaai.
Volgens Matema Gwangwa, Working on Fire (WoF)-woordvoerder, het die brand vermoedelik by Majuma Lodge naby die Mabula-natuurreservaat ontstaan.
WoF-personeel het op dié dag ses verskillende brande in Limpopo help bestry. ’n Vuurvegterspan van die nabygeleë Vingerkraal-omgewing is ontbied, maar weens die sterk wind het die vuur vinnig versprei.
Die vuur het later na die Mabalingwe-natuurreservaat, etlike kilometer van waar dit ontstaan het, versprei en WoF het ’n noodhelikopter en bykomende vuurvegterwa beskikbaar gestel.
’n Span in ’n vastevlerkvliegtuig het die vlamme se verspreiding gemoniteer en die inligting aan die helikoptervliënier, asook die spanne op die grond, deurgegee, het Gwangwa gesê. Digte rookwolke het teen die middag met tye bykans die sonstrale verduister.
Volgens Gwangwa is die vlamme teen ongeveer 18:00 op die Mabalingwe-natuurreservaat gestuit en aansienlik later in die Mabula-omgewing. Daar kon nie teen druktyd met sekerheid bepaal word hoeveel hektaar in die slag gebly het nie.
’n Moedelose Frederé de Jager, eienaar van die Ingilozi Park tussen Mabula- en Mabalingwe-natuurresevate, het aan Die Pos gesê hy het alle beskikbare weiding, 21 stuks wild, buitegeboue, toerusting en van sy personeel se wooneenhede in die brand verloor.
“Ons eksotiese wildritte gaan ’n groot knou kry. Ons het ook ons personeel verskuif en sal hulle voorlopig in ’n chalet op die plaas huisves,” het hy gesê.
“Ons restaurant en die speelarea is nie deur die brand geraak nie en wildritte vir kinders sal steeds beskikbaar wees. Ons sal egter tot verdere kennisgewing geen wildritte in die reservaat kan onderneem nie.”
Die brand het ’n transformator op die eiendom beskadig wat veroorsaak het dat een gedeelte van die eiendom se kragtoevoer afgesny is. Die transformator by die park se restaurant is egter nie beskadig nie.
Volgens Kobus Havemann, reservaatbestuurder van die Mabula-natuurreservaat, het hulle sover hulle kon vasstel geen wild verloor nie.
“Dit is baie droog. Die wind het sterk gewaai en dit was die ideale omstandighede vir ’n katastrofe,” het Havemann gesê. “Ons almal ry tans met vuurvegters op ons bakkies rond.”
Mabula-natuurreservaat doen reeds weer normaalweg sake.
De Jager en Havemann het albei hul dank teenoor die gemeenskap uitgespreek vir hul vinnige reaksie, hulp en samewerking om die vlamme onder beheer te bring. Hulle is ook dankbaar dat geen mens in die brande beseer of dood is nie.
Die oorsaak van die brand is nog nie bepaal nie.



