Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai), skryf:
’n Dramatiese toename in selfdood onder boere wie se lewens ondraaglik gemaak word weens die ergste droogte in dekades, ’n hoë skuldlas, ongenaakbare banke en ander finansiële diensverskaffers en uitbuiterprokureurs, het die landbougemeenskap diep bekommerd.
Hoewel die ANC vir jare al met onteiening sonder vergoeding dreig, is dit banke en ander kredietverskaffers wat daagliks droogtegeteisterde boere se skuld oproep en hulle van hul plase ontneem.
Die ergste is egter wanneer honderde boere, wat geslagte lank al op hul plase boer, met skuld van ’n fraksie van hul plaaswaarde, wat in een goeie seisoen dié skuld sou kon delg, dan sonder werk of heenkome op straat beland.
In die rampspoedige droogte is daar min kopers op veilings en ná ’n leeftyd se werk en opbou van ’n plaas word dié plase deur banke verkoop teen pryse wat minder as die boer se uitstaande skuld is.
Boonop word die boer ná die verkoop van sy plaas steeds vir die uitstaande bedrag aanspreeklik gehou.
Baie van hierdie boere sou hulself in een of twee goeie seisoene uit hul skuld kon boer.
Nie alles wat wettig is, is noodwendig moreel regverdigbaar nie.
Die dryf na hoër winste vir aandeelhouers in banke en landbou-ondernemings is onversoenbaar met die swaarkry wat ’n land en sy boere ly in ’n verwoestende natuurramp soos ’n droogte.
Saai sal soveel as moontlik inligting oor die omvang en intensiteit van die probleem insamel om moontlike kollektiewe aksie en oplossings te ondersoek saam met boere wat hierdeur geraak word.
Daarna sal Saai met banke en ander skuldeisers skakel en, indien nodig, ook druk op die regering plaas om die regulasies só te wysig dat uitbuiting deur gierige optredes van megakorporasies ingeperk word.
Die finansiële posisie van boere wat onder die droogte gebuk gaan, is benard en hul families is op breekpunt.
Help ons om hulle te identifiseer en ook waar die druk op hulle vandaan kom.
Stuur ’n e-pos met hierdie inligting na navrae@saai.org (.)



