Dr. Wynand Boshoff, VF-Plus LP en hoofwoordvoerder vir basiese onderwys, skryf:
Skole behoort ’n verlengstuk van die ouerhuis te wees.
Daarom behoort die waardes van die gemeenskap voorrang bo dié van die regering te geniet.
Tradisioneel was onderwys ’n huishoudelike saak en kinders is in die kodes van goeie gedrag, godsdienstige oortuigings en beroepsvaardighede ingelei.
Met die koms van die industriële samelewing het die regering dit nodig gevind om kinders van die strate af te haal, juis om sosiale wantoestande wat bo genoem is te bekamp. Kerke is egter by die onderwys betrek en skole was steeds ’n verlengstuk van die gemeenskap.
Die bedeling ná 1994 het godsdienstige oortuigings ondergeskik aan die grondwet gestel.
Dit gaan ook van die oortuiging uit dat die mens basies goed is en dat dissipline deur oortuiging aan kinders oorgedra moet word. Onder daardie verstandhouding is lyfstraf in skole, en meer onlangs ook in ouerhuise, verbied.
Die alternatief is om te glo dat die mens van nature tot die kwaad geneig is, hoewel die beeld van God nog in elkeen bestaan. Dit beteken dat opvoeding ’n proses is wat die goed bevorder en die kwade bestry, soms selfs met dwang.
In die lig van hierdie sienings is dit die VF-Plus se siening dat onderwys as ’n funksie van die gemeenskap herstel moet word, waar die regering slegs die onderbou verskaf.
Wanneer die waardevakuum wat tans bestaan met positiewe waardes gevul word, eers dan sal skole weer van die wantoestande van dwelms, geweld en seksuele teistering bevry kan word.



