BlogsOpinion

Hoofartikel: Waar is die regering se ‘tande’ in bek-en-klouseerkrisis?

’n Mens staan gewoon verstom oor die manier waarop die regering die uitbraak van die gevreesde bek-en-klouseer — die tweede uitbraak vanjaar — hanteer.

Die absolute onvermoë en onkunde waarmee dié nuus uit owerheidskringe begroet is, wil ’n mens laat huil. Boerdery is die hartklop van Limpopo; een van die hoofslagare van die land se ekonomie. Maar die afgelope twee weke het dit gevoel asof dit nét landbouers is wat besef dat ’n algehele ineenstoring van die landboubedryf dreig.

Bek-en-klouseer het in Januarie vanjaar in die Vhembe-distrik in Limpopo uitgebreek. Die regering moes tóé reeds die uitbraak met ’n ystervuis beveg het, maar hulle het nie, want die siekte het net enkele maande later weer sy kop uitgesteek — dié keer vir die eerste keer baie dieper in die sogenaamde “skoon kant” van die bek-en-klouseerlyn.

 

Foto: Herman Steyn

 

Die Molemole-distrik, om presies te wees. Honderde mense — selfs sekere lede van die media — het nou nog nie mooi besef presies wáár Molemole is nie. Dit is sommer net hier anderkant Polokwane op die pad Dendron toe. En intussen is nóg meer gevalle aangemeld.

Landbouers het al bykans twee weke van dié uitbraak geweet voordat die departement van landbou ’n afgewaterde verklaring uitgereik het waarin hulle ’n verbod op veeveilings in Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga geplaas het.

En intussen — terwyl amptenare voel dat die uitreik van so ’n verklaring voldoende is om een van die grootste krisisse in die landboubedryf in jare die hoof te bied — word vragte vol diere uit die besmette omgewing aangery na ander provinsies waar veilings wél nog aangebied word. Niemand keer die vervoer van diere nie. Niemand keer uit-die-hand-transaksies of aanlynveilings nie.

Niemand hou padblokkades nie. Om eerlik te wees — die regering het werklik nie die vermoë getoon om veeverkope en –vervoer te keer of te beheer nie.

Verlede week, terwyl die nuus van die veilingsverbod pas bekend begin raak het, is ’n spoggerige seminaar vir uitsoekgaste en hoë regeringsamptenare net buite Bela-Bela gehou. Daar is voorleggings gemaak en gepraat oor die Waterberg se enorme groeipotensiaal, maar nie ’n woord is oor bek-en-klouseer gerep nie.

’n Mens kan maar net dankbaar wees vir die voorlopers in landbou wat nie terugdeins vir die regering nie en reeds regshulp ingewin het oor moontlike eise. En ook oor die voorstelle wat hulle aan die regering maak oor hoe om nou eintlik op te tree in so ’n geval.

Die mense wat reeds sonder inkomste sit weens die tweede uitbraak van bek-en-klouseer sluit in boere, veilingsbeamptes, mense in die spysenieringsbedryf, voerkraalwerkers, vervoerkontrakteurs, plaaswerkers en talle meer. Gaan die regering eers wakker skrik as die land se hele vee- en wildbedryf in duie stort?

Related Articles

Back to top button