CrimeNews

Mokone vereer vir misdaadbekamping

’n Inwoner van Mookgophong is vereer vir sy bydrae om misdaad te bekamp.

Anton du Preez, ook bekend as Mokone, het twee toekennings ontvang om hom vir sy samewerking met die polisie in misdaadbekamping te beloon.

Du Preez is tweede in bevel van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die Modimolle-kring wat Modimolle, Vaalwater, Rankins-pas, Roedtan en Mookgophong se polisiëringsgebiede insluit.

Brig. Annelien Steyn, bevelvoerder van die Modimolle-kring, het een van die toekennings aan hom oorhandig. Die ander toekenning is in Oktober tydens ’n provinsiale prestigetoekenningsgeleentheid wat in Polokwane gehou is deur genl. Jan Scheepers, adjunk-provinsiale kommissaris, oorhandig.

“Ek voel bevoorreg om hierdie toekennings te ontvang,” het Du Preez gesê.

Hy het homself weer verbind tot die stryd om misdaad hok te slaan.

Du Preez is sedert 1986 by die polisie betrokke en het die bynaam “Mokone” by offisiere gekry. “Dit is nog steeds ’n besondere eer om in die Noord-Sotho-tradisie Mokone genoem te word. My leuse bly lojaliteit, respek vir en vertroue in my medemens — maak nie saak in watter omstandighede nie,” het hy gesê.

Mokone beteken “betroubaar” in Noord-Sotho. Hy het die bynaam gekry danksy sy betrokkenheid by sosiale opheffingswerk by die Polisiekollege in Hammanskraal.

Du Preez is ook voorsitter van die Naboomspruit-sakekamer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button