Bring die gesin en kom kyk na kinderhuis se liggies
Wat is die Kersseisoen sonder die vrolike vonkel van helderkleurige liggies wanneer die son sak?
Die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle skakel weer hul duisende kersliggies op Sondag 1 Desember aan as deel van hul Lumen-skouspel.
Besoekers word genooi om elke aand vanaf 18:00 die sprokieswêreld wat op die terrein geskep word te gaan bekyk. Toegangsfooi is R10 en die Abraham Koffiehuis sal elke aand vanaf 17:30 heerlike etes bedien. Daar sal ook koeldrank en lekkergoed te koop wees.
“Die liggiefees is ons grootste fondsinsamelingspoging van die jaar en die sukses daarvan word bepaal deur die getal besoekers,” het Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, gesê.
Inwoners word aangemoedig om hul kuiergaste uit te nooi om na die liggies te gaan kyk.
Om veiligheidsredes sal die Kersliggies nie aangeskakel word wanneer dit reën nie, maar die koffiehuis sal steeds etes bedien.
Die liggies is nie al waarna besoekers kan uitsien nie. Nicholis Louw tree op Dinsdag 10 Desember by die kinderhuis op en op Saterdag 14 Desember kan besoekers Kersliedere saam met sanger Franna Benadé sing.
Jacques Botes voer op Saterdag 28 Desember om 16:00 die Koos du Plessis-storie op. Kaartjies vir hierdie vertoning beloop R100 per persoon en sluit ’n ete in.
Diegene wat die kinderhuis wil help, is welkom om klere, toiletware, skoonmaakmiddels, kos en ander bederfies onder hul Kersboom te sit.
Vir meer inligting skakel tel. (014) 717 5264.



