
’n Mens staan soms verstom oor watter soort nuus en inskrywings op sosiale media mense na die deel- en kommentaarknoppie laat beweeg.
Dit is, verrassend genoeg, nie altyd die gewigtige nuusberigte nie. Soms is dit sommer net ’n goeie nuusstorie.
Soos die onlangse inskrywing op die koerant se Facebook-blad oor die straatverkoper, Frank Heath, wat sedert begin November elke Vrydag-oggend Die Pos in die hoofstraat van Bela-Bela verkoop.

Dié inskrywing, met ’n foto van Heath, het die spreekwoordelike krane van komplimente oopgedraai en lesers het in hul kommentaar vertel hoe vriendelik, behulpsaam en hoflik Heath, wat ook as motorwag in hoofstraat diens doen, is.
Is dit nie lekker om in hierdie tyd dat mense mekaar op sosiale media eerder met modder gooi, ook positiewe kommentaar te lees nie?
Die koerant se bestuur kan ná ’n maand getuig dat hulle glad nie spyt is oor Heath se aanstelling as koerantverkoper nie. Hy verkoop nie net sy hoeveelheid koerante weekliks heeltemal uit nie, maar dit is al twee keer vermeerder en die verkoopsyfer in dié dorp het sommer kop opgetel.
Dit is natuurlik deels daaraan te danke dat Heath ’n goeie bemarker vir die koerant is, maar andersyds ook omdat Die Pos weekliks belang-
rike nuus oor die lief en leed in die suidelike deel van die Waterberg dra.
Volgens Root, ’n Suid-Afrikaanse onderneming wat media-navorsing doen, het die sirkulasiesyfer van nasionale koerante die afgelope paar jaar drasties gedaal terwyl plaaslike koerante meer stabiel gebly het en in sekere gebiede selfs gegroei het.
Dit word, volgens Root, toegeskryf aan die feit dat mense, ten spyte van die feit dat hulle hul nuus via die digitale media ontvang, steeds ’n groot behoefte het om op hoogte te bly van plaaslike gebeure en nuus wat nié deur die groter koerante en webwerwe gedek word nie. Dit is natuurlik een van die groot redes waarom nasionale groepe juis in plaaslike koerante bly adverteer.
Met bogenoemde statistieke in gedagte en danksy Heath se geesdrif, is Die Pos se verspreidingspan aangevuur om dit in 2020 vir inwoners nóg makliker en meer gerieflik te maak om weekliks Die Pos te koop.
Die Pos sal van 2020 ook by die Wimpy in Bela-Bela, asook by die Negester-ontwikkeling buite die dorp, te koop wees. En vroeg aanstaande jaar sal Die Pos ook hopelik digitaal te koop wees.
Die wêreld verander vinnig en tegnologie het baie voete, maar volgens Root sal plaaslike mediahuise nog baie lank ’n gaping in die mark vul wat nie sommer in skaakmat geplaas sal word nie.


