Jan van Blerk, bekende Sonskyndorper en lid van die Bosveld-jagtersvereniging se Waterberg-tak, was verlede week amper ’n slagoffer van bedrieërs.
Van Blerk het aan Die Pos gesê hy het op Dinsdag 19 November ’n inkopiespaarkaart by ’n bekende kettingwinkel by die Bela Mall uitgeneem en later die dag ’n verdagte oproep ontvang.
“Die man het my gevra om die laaste paar nommers agterop my kredietkaart aan hom te verskaf omdat daar glo vermoed is dat iemand geld uit my bankrekening wou steel. Ek het aangehou weier, selfs al het die man my aanhoudend bly bel.”
Van Blerk het later ’n oproep van Absa-bank se bedrogtak gekry, waarna aan hom gesê is dat iemand vier keer op dié dag probeer het om geld uit sy rekening te trek.
Van Blerk het gesê hy het die verdagte persoon, wat van ’n selfoon gebel het, probeer terugbel, maar die foon het elke keer direk na stempos oorgegaan.
Absa het Van Blerk se rekening geblokkeer en ’n nuwe kaart aan hom uitgereik.
“Dit is vir my baie verdag dat ek die Dinsdag my persoonlike detail aan die kettingwinkel moes verskaf om die spaarkaart te kry en ure later kry ek hierdie verdagte oproepe. Ek vermoed dat my inligting vanaf die betrokke winkel uitgegee is en in die verkeerde hande beland het.”
Die Pos het ’n navraag na die winkel se hoofkantoor gestuur en daar is aan ons gesê dat die saak ondersoek sal word.
’n Woordvoerder van die Bela-Bela-polisie het by navraag gesê mense moet dié tyd van die jaar lig loop vir skurke.
Inwoners word aangeraai om enige verdagte bedrywighede by die polisie aan te meld.
- Die Pos het ook onlangs berig oor skelms wat bankkliënte bel en dan juis voorgee dat hulle van die betrokke bank se “bedrogafdeling” is. Hulle versin dan aan kliënte die storie dat iemand glo aanhoudend probeer om geld uit hul rekenings te onttrek en lok dan mense op dié manier uit om hul besonderherde te verskaf sodat hulle die kaart kastig kan stop. Sodra mense hulle pinnommers verskaf, is dit neusie verby. Mense word gewaarsku dat géén bankamptenaar ooit oor die telefoon sal vra dat mense pin-nommers aan hulle verskaf nie.



