Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het ’n onbekende aantal inbrekers deur die winkel se dak ingebreek en een van die kluise met ’n sleutel oopgesluit. Hulle het daarna op die vlug geslaan met R10 000 kontant.
Die voorval het vermoedelik gedurende die nagtelike ure van Saterdag 30 November of vroeë oggendure van Sondag gebeur. Die werknemers het onraad vermoed toe hulle die winkel Sondag oopgesluit het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
“Die polisie het die toneel weer besoek om al die leidrade op te volg. Die ondersoek duur voort,” het Findlay gesê.
Een van die motorwagte naby die winkel het gesê dat hulle vanjaar op hul hoede is omdat misdaad gewoonlik toeneem.
“Ons is net dankbaar dat hulle nie gedurende die dag met wapens opgedaag het nie,” het hy gesê.



