Die Bela-Bela-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n vrou van Spa Park glo die afgelope naweek in haar huis met skerp voorwerpe doodgesteek is.
Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het Raisibe Dorah Aschendorff (58) se seun Saterdagmiddag 30 November op sy ma se lyk in haar kamer afgekom.
Maponya het gesê die seun, wie se identiteit nie bekend is nie, het glo sy ma die vorige aand gebel. Sy het glo aan hom gesê dat haar kêrel saam met haar by die huis is, waarna hy besluit het om nie dié aand by sy ma se huis in Hoep-Hoepstraat oor te bly nie.
Volgens Maponya is die kêrel na bewering op die betrokke aand toegang tot Aschendorff se huis geweier waarop hy toegang deur ’n badkamervenster verkry het. Wat presies daarna gebeur het, is nog nie duidelik nie. Die kêrel is volgens die polisie van die Venda-omgewing. Hy het vroeër in Bela-Bela gewerk, maar het intussen spoorloos verdwyn.
“Die polisie het beslag gelê op twee messe en ’n kombuisvurk wat vermoedelik gebruik is om haar dood te steek,” het Maponya gesê.
Hy het gesê die huis was ontsettend deurmekaar wat ’n aanduiding kan wees van ’n stryery vooraf.
Enigiemand wat inligting oor die voorval het of weet waar die man hom bevind, word gevra om die Bela-Bela-polisie te skakel by tel. (014) 736 9760/9761.



