Bek-en-klouseer: Verbod duur voort
Die verbod soos in die staatskoerant gepubliseer is, is steeds van krag.
Produsente in die veebedryf het gedurende Desember angstig gewag vir nuus oor die bek-en-klouseerkrisis in die landboubedryf, maar dié gewag is skynbaar nie verby nie.
Volgens die departement van landbou, bosbou en vissery is daar tot op Woensdag 11 Desember geen nuwe voorvalle aangemeld nie sedert die aanvanklike uitbraak aan die begin van November in die Molemole-gebied, noord van Polokwane. Teen druktyd op Woensdag 8 Januarie was daar bewerings van drie nuwe uitbrake noord van Pretoria, maar die departement kon dit nie bevestig nie.
Intussen word veeveilings en –verkope landwyd ernstig gestriem.
Die eerste bek-en-klouseeruitbraak was in Januarie 2019 in die Vhembe-gebied en, sover vasgestel kon word, is die November-uitbraak van dieselfde streek afkomstig.
Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het reeds op Woensdag 4 Desember ’n algehele verbod op die vervoer en verkoop van vee in die staatskoerant bekendgemaak. Dit het gevolg op die reeds bestaande verbod op veilings in Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga.
Luidens die staatskoerant moet vee vir 28 dae in een kraal gehou word — sonder nuwe toevoegings — waartydens die produsent bewyse moet lewer dat die vee siektevry is. Die inkubasietydperk is omdat simptome eers ná ongeveer 28 dae sigbaar word. Simptome sluit in lusteloosheid onder diere, sere in die bek, diere wat onwillig is om te eet en selfs verlamming.
Ingevolge die verbod mag veeverkope onder streng maatreëls voortgaan. Bewyse dat die vee nie die siekte dra nie moet byvoorbeeld gestaaf word deur ’n klaringsertifikaat van ’n veearts.
Die siekte is sedert die uitbraak by 11 boerderye aangetref, waarna die eiendomme onder kwarantyn geplaas is.
Volgens die departement is 70 ander eiendomme ondersoek en die verbod is op vyf van dié plekke gelig. Die departement het verder ses nedersettings besoek en met 315 veeboere in die Molemole-gebied, noord van Polokwane, vergader om hulle touwys te maak oor die siekte.
In ’n opvolgverklaring op Saterdag 4 Januarie vanjaar het die departement gerugte dat die Vhembe-gebied bek-en-klouseervry verklaar is, as onwaar bestempel. Reggie Ngcobo, woordvoerder, het die gerugte as fopnuus bestempel en raai mense aan om met plaaslike owerhede te skakel om hulle van die feite te vergewis.
Die verbod soos in die staatskoerant gepubliseer is, is steeds van krag. Dié kennisgewing verbied nie die verskuiwing van vee wat siektevry verklaar is van een plaas na ’n ander, of die privaat veilings van individuele boerderye nie, het Ngcobo gesê.
Volgens inligting van die Bek-en-klouseerforum (BK Forum), wat in November in Bela-Bela gestig is, word daar na verwagting op Maandag 13 Januarie ’n vergadering gehou met die betrokke veeartse wat by die beheer van die siekte betrokke is.
Intussen is veilingshuise soos André Kock en Seun, asook Vleissentraal Bosveld, besig om hul ontsmettingsprosedures by hul veilingskrale regoor die land te verbeter.
Die staatskoerantkennisgewing kan besigtig word by www.daff.gov.za/daffweb3/Home/Foot-and-mouth. Mense word steeds aangeraai om enige tekens van die siekte aan te meld.



