Local newsNews

Skok ná besoekers op leë graf afkom

’n Paar Bela-Bela-inwoners is ’n lelike skrik op die lyf gejaag ná ’n besoek aan die begraafplaas waar hulle op ’n oop graf afgekom het en onder die indruk was dat vandale die graf geplunder het.

Die munisipaliteit ontken dit egter hoewel hulle nie ’n duidelike verklaring het oor waarom dié graf soos ’n sinkgat lyk nie.

Stolla Stolz, inwoner, het die begraafplaas op Dinsdag 14 Januarie saam met ’n groep mense besoek om ’n afgestorwe familielid se graf skoon te maak toe hulle die oop graf ontdek het.

Die Pos het by die Bela-Bela-polisie aangeklop oor die aangeleentheid.

Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, is daar die afgelope paar maande geen klagtes van vandalisme in die begraafplaas by die polisie aangemeld nie.

Volgens ’n munisipale werker, wat verkies om anoniem te bly, het die werkers geruime tyd gelede al instruksie ontvang om dié betrokke graf oop te grawe, maar dit het nog nie gebeur nie. Volgens hom was daar nie ’n kis in die graf nie.

“Dit gebeur soms dat mense vra om ’n graf voor te berei, maar dan staan dit baie lank oop. Dit kan dalk hier die geval wees. Ons het intussen ’n sinkplaat bo-oor die gat geplaas,” het die werker gesê.

Hy het bygevoeg dat daar geen vorm van misdaad by die begraafplaas plaasgevind het nie.

Die begraafplaas is ná die onlangse goeie reëns toegegroei met bosse en lang gras. Die instandhouding van die begraafplaas bly ’n probleem en ’n groep privaat mense het onlangs ’n onderneming gestig om namens inwoners die grafte van hul geliefdes teen ’n fooi in stand te hou.

“Munisipale werkers is besig om in die dorp gras te sny en ons verwag dat hulle binnekort die begraafplaas sal kom skoonmaak,” het die werker gesê.

Maponya het gesê hoewel geen sake geopen is nie, wil hulle inwoners nogtans aanraai om hul geliefdes se grafte gereeld te besoek en enige ongerymdhede dadelik aan te meld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button