’n Tagtigjarige inwoner van Vaalwater is bykans 24 uur lank in haar kamer toegesluit nadat twee aanvallers haar ná kerk by haar huis oorval het.
Anette van der Walt, wat 24 jaar lank alleen in haar huis 7 km buite die dorp gewoon het, het intussen uit skok die land verlaat.
Sy het in ’n onderhoud met Die Pos vertel dat twee mans haar op Sondagoggend 12 Januarie buite haar huis oorrompel het toe sy van die kerk af gekom het. Hulle het haar mond toegedruk en haar die huis ingedwing en aangedring op geld en die kluis se sleutel. Hulle het haar handsak uitgeskud en die kontant en twee selfone in hul sakke gedruk.
“Een van die mans wou weet waar die kluis se sleutel is. Hy het die heeltyd gesê: ‘I’ll kill you’. Ek het die sleutel vir hom gegee, want ek bêre nie my wapen in die kluis nie. Hy het egter die ammunisie gesien en wou weet waar my wapen is. Ek bêre dit onder my bed en wou dit vinnig in die hande kry, maar die man het dit uit my hand geklap.”
Die twee mans het haar bankkaart se geheime kode gevra en gedreig om terug te kom indien dit nie werk nie. Hulle het haar daarna in haar kamer toegesluit en gevlug.
“Ek was so bang dat hulle gaan terugkom en my met my eie wapen skiet. Ek het in die badkamer gaan sit nadat ek ’n swaar kas voor die deur geskuif het. Ek het heelnag op die rand van die bad gesit, maar was teen 06:00 die volgende oggend só moeg ek kon nie my oë oophou nie. Ek het verlede jaar ’n heupvervanging gehad en was baie bang dat ek val en myself beseer. Ek het maar die kas weer weggeskuif en op my bed gaan lê, want ek kon nog steeds nie uit die kamer kom nie,” het Van der Walt vanuit Ierland vertel.
Haar dogter Annelie Coetzer het onmiddellik ná die aanval gereël dat haar ma by haar gaan woon. Van der Walt se ander dogter, Nicolette Zietsman, woon in Engeland.
Die oggend ná die aanval het Van der Walt se tuinier, wat laat opgedaag het, haar om hulp hoor roep. ’n Buurman het kom help om haar uit die huis te bevry.
“Dit is maar ’n hartseerstorie. Ek moes in ’n dag besluit wat om alles in te pak. Ek het baie huis- en velddiere wat ek ontsettend baie gaan mis. Ek en my oorlede man het 48 jaar gelede in die huis ingetrek en het ons kinders hier groot gemaak. Dit is moeilik om dit alles so onverwags agter te laat,” het sy gesê.
“Die son is maar skaars hier in Ierland. Ek gaan Suid-Afrika se sonskyn mis. Ek is so dankbaar dat my twee dogters my nou veilig onder hul vlerke hou,” het die dapper vrou gesê.



