Jongeling met passie vir handgemaakte messe
Werner van Vuuren (17) van Mookgophong het van kleins af ’n passie vir handgemaakte messe gehad.
Hy het toe hy in gr. 7 was, saam met sy pa, Stefan van Vuuren, ’n siviele ingenieur, begin om messe te maak. “Dit was egter heelwat anders as wat ek nou doen, want ons het die lemme klaar gekoop en dan net die messe aanmekaar gesit,” het hy aan Die Pos vertel.
Toe hy 16 was, het hy ‘n smeltoond gebou en self begin om die lemme en hewwe te maak. Nou is dit amper ’n voltydse stokperdjie wat hy beoefen, want om messe te maak, verg baie tyd. Een van sy spogmesse het ongeveer 80 uur geneem om te maak. Dit verg konsentrasie en hy moet baie presies werk om die beste resultate te kry.

Die toerusting is baie doelgerig en die oond en lemsnyers wat hy gebruik, is baie duur toerusting. “Gelukkig het my pa baie snylemme in voorraad gehad en was dit nie nodig om te koop nie,” het hy gesê.
Werner maak hoofsaaklik die Amerikaanse “frontier” messe waarvan die afwerking verskil van gewone meslemme. “Hierdie soort messe is gewild omdat jy nog bewyse kan sien van die oorspronklike materiaal waarvan die lem gemaak is,” het hy vertel.
Hy hou daarvan om by pandjieswinkels te kyk vir ou vyle en raspers en staal en dan begin die groot proses van smee op ’n aambeeld. Van die staal koop hy by ’n spesialiswinkel wat slegs staal aanhou wat gebruik kan word vir die maak van messe.
Hy ontwerp self die lemme en meeste van die hewwe is uit ivoor of inheemse houtsoorte. Werner maak die skedes uit leer en doen alles met die hand en sy ouma, Lynette van Vuuren, het met groot geesdrif vertel hoe trots sy op Werner se “naaldwerk” is.
Hy beplan om aan die einde van 2020 ’n uitstalling te hou by ’n groot messeskou in Pretoria.
Dié matrikulant van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se kop staan egter universiteit toe en hy wil in 2021 elektromeganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer.



