Local newsNews

‘Lê die eerste baksteen’

In die kantoor staan ’n lessenaar, drie stoele en ’n bed. Die rustigheid van ’n groen tuin wink deur die kantgordyn.

Dis hier waar Pat Groenewald, pastorale berader op Modimolle, mense weer hoop en rigting probeer gee.

Groenewald, wat haar as jongmens as ’n mediese tegnoloog bekwaam het, het in 2010 haar M-graad in pastorale berading verwerf. Sy glo dat daar na die sielkundige sowel as die geestelike aspek gekyk moet word. “Laat ons nou maar eerlik wees, heling kom van die Here af,” sê sy op haar rustige manier.

“Ek help mense om hulself te verstaan, want dan sal hulle diegene om hulle ook beter begryp.” Dis nadat sy haar eie moeilike pad gestap het, dat sy geroepe gevoel het om uit te reik na ander mense.

Sy is veral passievol oor kinders en jongmense. “Tot en met tien jaar kan ’n kind nie abstrak dink nie en glo dit wat hy hoor en sien. Die woorde en dade van ouers kan baie groot letsels op jong kinders laat.” Een van die probleme wat sy gereeld teëkom, is kinders met ‘n swak selfbeeld, omdat hulle hulself op akademiese of sportgebied teen ander kinders meet.

Die Pos het haar ’n paar vrae gevra:

Watter liefdadigheidsorganisasie lê jou na aan die hart?
Die dierebeskermingsvereniging (DBV) — troeteldiere is eintlik sulke wonderlike terapeute en kom dadelik agter as ons af voel.

Watter sosiale media netwerke gebruik jy?
Ek gebruik Facebook en Whatsapp. Ek plaas gereeld leersame artikels op groepe in die hoop dat dit vir iemand daar buite van waarde is. Ek kry gereeld oproepe van mense wat raakpunte in die artikels gesien het. Ek hou kontak met my pasiënte, veral die jonges deur Whatsapp.

As jy R1 miljoen kry om in jou gemeenskap te spandeer, wat sou jy eerste doen?
Die geld moet gebruik word vir opheffing aan beide kante van die spoorlyn. Ek sal begin by die skole — dit moet vir almal maklik wees om skool toe te kan gaan. Alles begin by onderrig, van kleuterskool af.

Wat dink jy is die toekoms van klein Suid-Afrikaanse dorpies?
Ek is opgewonde oor ons toekoms. Dit sal nooit doodloop nie, ons werk saam aan ons probleme en doen dinge saam. Ek sien die glas as half vol — daar is ’n plek vir ons hier.

Watter aanhaling inspireer jou?
Your life follows the path of your strongest thought – Craig Groeschel

Watter persoon het jou pad gekruis wat jou oortuig het dit is nodig om brûe te bou?
Ds. André Dreyer, ’n predikant in die Kaap wat my mentor was. Hy is jare gelede reeds oorlede.

Watter probleem in jou gemeenskap dink jy moet eerste aandag geniet?
Mense moet meer oop wees. Hulle moet besef dat om emosioneel te sukkel nie van jou ’n swakkeling maak nie. As jy hartprobleme het, gaan sien jy ’n spesialis. Dieselfde met emosionele probleme. Moet jouself nie beroof van ’n goeie lewe nie.

Een stukkie raad aan voornemende brugbouers?
Wees jy die een wat die eerste baksteen lê. Neem elke keer die eerste tree, dit gaan nie oor jou nie maar om ander te help.

Wat is jou droom vir jou gemeenskap?
Dat ons hande sal vat en in liefde na mekaar uitreik. Dat almal brugbouers sal wees en dat God sy plek in die gemeenskap kan inneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button