Kobus Versfeld van Pienaarsrivier skryf:
Na die ongelukkige voorval waar Enoch Mpianzi van Parktown Boys High School tydens ’n oriënteringskamp in die Krokodilrivier verdrink het, ontstaan die vraag of oriëntering nie ’n onding is nie.
Ons ouer garde wat in die sestigerjare in die hoërskool was, veral diegene wat in koshuise was, sal jou alles van ontgroening kan vertel. Ons moes dit net eenvoudig aanvaar, en die tyd afwag totdat jy die senior in matriek was wat by magte was om te ontgroen. Tradisie moes voortleef.
Ons is as die destydse st. 6’e (deesdae gr. 8) verneder, ontgroen en volwasse gemaak deur die seniors (vandag se gr. 11 en 12). Ons het byname gekry, moes jou naambord om jou nek dra vir twee weke, ons moes ons poeding elke Woensdagaand afstaan aan die seniors by ons tafel. Ons het vir ons kos geknor, ons het vloere geskrop met tandeborsels, ons het pouses by die skool klippies in die slootjies van die plaveisel met ons neuse gestoot, ons het seniors se tasse gedra, hulle beddens opgemaak, hulle skoene skoongemaak, op aandag gestaan voor hulle met jou voet na binne gebuig, ensovoorts.
Ons het nooit ’n “oriënteringstrafkamp” gehad nie. Onderwysers het nie betrokke geraak nie, behalwe as iets handuit ruk (wat selde gebeur het), want dan wag ses van die bestes op al die seniors.
Die ontgroening is in die swembad afgesluit waar al die nuwelinge met hul skoolklere in die skoolswembad gestamp is. Die seniors was dan reeds in hul swemklere binne-in die swembad. Daardie selfde aand het die groentjiekonsert voor die res van die skool en die ouers plaasgevind en dan was alles verby.
Met die nuwe “boelie-era” wat aangebreek het en dissipline wat by die agterdeur uit is, het dinge skynbaar handuit geruk.
Ek stem nie saam met “oriënteringstrafkampe” waar oorlewingsmetodes gebruik word nie, dit klink meer na ’n weermag (“bootcamp”).
Bring liewer die ou tradisie van aanvaarbare ontgroening (soos ons dit ken) terug.



