Die byeenkoms het om 14:00 in aanvang geneem en na 17:00 is die laaste sake eers afgehandel. Volgens AO George Ledwaba was die doel van die Imbizo om die voortdurende misdaad in die dorp te bespreek en inwoners van die gemeenskap die geleentheid te bied om hul insette oor die voortslepende probleem te lewer.
Benewens burgemeester Marlene van Staden van die plaaslike munisipaliteit en van die raadslede, was daar ook verteenwoordigers van korrektiewe dienste, maatskaplike dienste, die groepsbevelvoerder van die polisie in Modimolle, brig. Annelien Steyn, en die plaaslike stasiebevelvoerder, kol. Mape Kekana.Genl. Jan Scheepers, tweede in bevel van die Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) in Limpopo en die provinsie se LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Dickson Masemola, het die verhoog gedeel en was paraat met inligting vir die inwoners.
Voor die aanvang van die Imbizo het die plaaslike veiligheidsgroepe en die GPF met Masemola en Scheepers by die polisiestasie in die dorp vergader. Daar is besluit dat die GPF sal herstruktureer om meer effektief te funksioneer.
Die meeste van die inwoners se klagtes was gemik teen die plaaslike polisie wat daarvan beskuldig is dat hulle traag is om te reageer op oproepe wanneer misdaad in Sektor 1 aangemeld word.
Inwoners het dit duidelik gemaak dat hulle onveilig voel en dat hulle nie op die polisie kan staatmaak vir beskerming nie.
Op sy beurt het Scheepers inwoners aangemoedig om enige verdagte of lakse optrede van polisielede direk aan hom te rapporteer en hy het sy persoonlike selnommer aan die gehoor verskaf.
Hy het hom ook sterk uitgespreek teen boere wat onwettige immigrante in diens neem en selfs sover gegaan om te belowe dat diegene wat hulle hieraan skuldig maak ook in hegtenis geneem sal word.
Die hoë werkloosheidsyfer in die dorp was ook een van die knelpunte wat bespreek is en dit word gedeeltelik toegeskryf aan die indiensneming van buitelanders.
Masemola het in sy toespraak die inwoners verseker van sy ondersteuning en dat hy daarna streef om misdaad uit te roei en sodoende ’n veilige woonplek aan inwoners te bied.



