DA-hoë aan boere: Noodkrete sal aangehoor word
“Grondonteiening sonder vergoeding is onwettig, onregverdig en ongrondwetlik.”
“Grondonteiening sonder vergoeding is onwettig, onregverdig en ongrondwetlik, al is die ANC-regering daarop uit om die grondwet vir eie gewin te wil wysig…” en “al word daar ’n begroting opgestel om die bek-en-klouseer-uitbraak in die land te bekamp, maak die regering se verskonings dat daar ’n gebrek aan fondse is, nie sin wanneer miljoene rande eerder op sukkelende staatsondernemings gespandeer word nie…”
Dit was die woorde van John Steenhuisen, LP en die DA se tussentydse nasionale leier op Dinsdag 28 Januarie tydens ’n vergadering by André Kock en Seun-veilingskrale buite Bela-Bela aan rolspelers in die veebedryf.
Steenhuisen en sy afvaardiging besoek provinsies in aanloop tot president Cyril Ramaphosa se staatsrede wat op Donderdag 13 Februarie in die parlement gehou gaan word. Die doel van die besoek was hoofsaaklik om na rolspelers in die veebedryf se behoeftes te luister. Dié bedryf beleef tans ’n krisis.
Die bek-en-klouseer-noodtoestand wat sedert November die veebedryf op sy knieë gedwing het, asook die bedreiging van grondonteiening sonder vergoeding, was besprekingspunte op die agenda.
Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Limpopo dieregesondheidforum, het gesê dat persone in die veebedryf primêr verantwoordelik is om die siekte te bekamp en die regering se rol is om toe te sien dat die bedryf aan al die vereistes moet voldoen en om voorligting te gee aan daardie boere wat dit nodig het. Tans is boere regoor die land bereid om al die funksies oor te neem om beter regulering te verseker.
Paul van Vuuren sr., direkteur by André Kock en Seun, het gevra dat padblokkades deur die polisie of die weermag regoor die provinsie gehou moet word om die vervoer van besmette diere dadelik stop te sit. Die trae optrede van die owerhede het tot gevolg dat daar reeds sedert November 2019 ’n verbod op die vervoer en handel van diere is en dit kniehalter die bedryf.
Die belofte wat Michael Mlengana, direkteurgeneraal van die departement landbou, bosbou en vissery, reeds op Woensdag 20 November aan rolspelers gemaak het dat die verbod op alle veeveilings binne 28 dae gelig sal word, het nie gerealiseer nie.
Van Vuuren en ander rolspelers is van mening dat dit uiters frustrerend is wanneer die privaatsektor oplossings na die tafel toe bring om regeringsforums te versterk sodat die probleem opgelos kan word terwyl amptenare geen gehoor gee nie en slegs leë beloftes maak. Van Vuuren het gesê dat die veilingsbedryf beter pryse beding vir die boere en tans is die verbod op die vervoer van diere besig om die bedryf in die kiem te smoor.
Van Jaarsveld het gesê dat die wildbedryf weens die uitbreek van die siekte, nou ook onder druk is. Hy het gesê alle gesplete hoefdiere kan geraak word.
Steenhuisen het gesê dat dit hom verstom dat die regering reeds ’n noodplan het vir die Corona-virus wat onlangs in China uitgebreek het, maar nie ’n werkbare oplossing het vir ’n krisis wat hom op eie bodem afspeel nie. Dit is totaal onaanvaarbaar dat daar geen proaktiewe plan is om bek-en-klouseer te beheer nie.
Rakende die wysiging van artikel 25 van die grondwet (grondonteiening), het die publiek slegs tot en met Vrydag 31 Januarie kans om kommentaar te lewer deur ’n e-pos te stuur na section25@parliament.gov.za(.)
Volgens Steenhuisen het Zimbabwe onder Robert Mugabe se regering ekonomiese armoede beleef toe politici ’n groter sê oor grondregte verkry het as die howe. Hy voorsien dat Suid-Afrika voor ’n afgrond staan met grondhervorming.
“Die regering se fokus oor grondhervorming, en die wanbestuur van belastingbetalers se geld is nie tot voordeel van ons land nie. Ek onderneem om hierdie probleme self in die parlement te opper, want almal weet ek draai nie doekies om nie. Ek sal seker maak dat die boeregemeenskap se noodkrete daar aangehoor word,” het Steenhuisen gesê.



