VLU-vroue wys hul staatmakers aan
Die vroue van die VLU se Nylstroom-tak het hul eerste byeenkoms vir die jaar by die Abraham Kriel-kinderhuis gehou.
Die tema vir die jaar is “koester en bewaar” en ds. Riaan Odendaal het met sy boodskap hierby aangesluit deur uit Spreuke 11:24 te lees: “Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word.”

“Ons wil op soveel gebiede alles koester en bewaar, ook geestelik en emosioneel.
Ons wil amper ’n grotbestaan voer weens die dinge om ons en dit wat in ons land aangaan, maar ons moet uitreik na almal om ons, ongeag ras en kleur,” het Elsa du Plessis, die tak se skakelbeampte, gesê.
Ons het mekaar nodig en deur nader aan God te leef, kan ons almal dit wat vir ons van waarde is, koester.”

Die tak het ook hul jaarlikse miniskou en prysuitdeling gehad. Dorothy de Beer het geskitter en vir die meeste kompetisies ingeskryf en die meeste punte behaal. Magda Pretorius is aangewys as Vonkelvrou van die Jaar.
Die tak vergader weer op Dinsdag 18 Februarie. Vroue wat belangstel om aan te sluit of om te kom kyk wat die VLU doen, kan vir Du Plessis bel by tel. 082 707 9506.



