Daar is die afgelope twee jaar verskeie rooftogte op die N1 in die Bela-Bela-omgewing aangemeld en min van dié sake het tot inhegtenisnemings gelei.
Sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het gesê in die jongste voorval was ’n minibus vol passasiers onderweg van Houghton in Johannesburg na Zimbabwe toe die bussie teen ongeveer 00:23 ’n pap wiel gekry het. Die bussie het naby die Mantsole-weegbrug stilgehou. Die bestuurder en sy aflosbestuurder het uitgeklim om die band te vervang.
Drie gewapende rowers het skeilik uit die bosse te voorskyn gekom en die groep mense aangehou.
Maponya sê die rowers het skote afgevuur en die twee bestuurders het per voet in die rigting van Radium gevlug. Die rowers het daarna die passasiers van hul besittings en kontant beroof voordat hulle gevlug het. Die polisie sê hulle het weggekom met ’n geraamde kontantbedrag van R108 000.
Maponya sê daar is ’n moontlikheid dat die verdagtes vooraf ingelig is om op ’n sekere tyd en plek toe te slaan, hoewel dit op hierdie stadium nie bevestig kan word nie.
Die meeste van die passasiers is van Zimbabwe en hulle reis gewoonlik met groot kontantbedrae (in Suid-Afrikaanse geldeenheid). Een van dié passasiers het glo bykans R60 000 by haar gehad, het Maponya gesê.
Die polisie het agterdogtig geraak omdat die selfoon van een van die twee bestuurders se vrou nie gebuit is nie en sy ná die rooftog haar man kon bel, het Maponya gesê.
Dié N1-rooftog is die eerste een wat vanjaar in die Bela-Bela-omgewing plaasgevind het. Geen voorvalle is in Desember aangemeld nie.
Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof.



