LettersOpinion

Toestand van dorp is om van te huil

Die toe­stand van ons dorp is ’n skan­de.

Krummels, Modimolle, skryf:

Die ou Nyl­stroom het in 1983 my tuiste ge­word om­dat dié dorpie ’n unie­ke be­ko­ring ge­had het.

Die om­ge­wing en na­tuur­skoon het my siel laat asem­haal en men­se het saam­ge­staan en vir me­kaar om­ge­gee — daar­om se­ker dat ons ’n Abra­ham Kriel-­kin­der­huis en ’n Son­straal­skool het.

Af­ge­tre­de­nes het die tot­stand­ko­ming van Ko­kan­je- en Bos­veld­sig-aftree­oor­de tot ge­volg gehad. Nyl­stroom was ’n ge­wil­de be­stem­ming en ’n dorp waar­in ’n mens kon en wou be­lê.

Dinge het dramaties verander ná die tot­stand­koming van ’n de­mo­kra­tie­se be­stel in 1994, maar vir my was die mees ont­stel­len­de trans­for­ma­sie die in­wo­ners wat min­der be­trok­ke geraak het by die pro­ses­se en elk­een wat meer op hul­self en hul eie ge­sinne begin ­fokus het. Dit het ons eg­ter nie lank ge­neem om ag­ter te kom dat die nu­we ge­sag nie die ver­skil­len­de vlak­ke van be­stuur suk­ses­vol kan han­teer nie. Met ka­der­ont­plooi­ing en reg­stel­len­de ak­sie het die oud­in­wo­ners van ons dorp toe­ge­kyk hoe al­les wat oor ja­re op­ge­bou is, begin verval het.

Som­mi­ge amp­te­nare in mags­po­si­sies het dié tyd­perk van chaos ge­bruik om hul­self te ver­ryk en die in­wo­ners wat eien­dom en onder­ne­mings be­sit het en aan wie die dorp eint­lik be­hoort, is dis­re­spekvol een­kant toe ge­skuif. Hulle moes maar net hul­ muni­sipa­le reke­ninge be­taal, ter­wyl die diens­te ag­ter­uit­ge­gaan en die ta­rie­we bly ­styg het.

Ons het ons hoop ge­ves­tig op po­li­tie­ke par­tye se be­lof­tes van ’n skoon en eer­li­ke ad­mi­ni­stra­sie en die geïn­te­greer­de ont­wik­ke­lings­plan (IDP) het die in­druk ge­skep dat daar ver­ant­woor­de­lik be­groot word en dat die be­hoef­tes van ons dorp er­ken word. Daar het he­laas ook niks van ge­kom nie en ons kan maar net won­der wat van al die geld ge­word het.

Die toe­stand van ons dorp is ’n skan­de.

Al­mal kla oor slag­ga­te, riool wat in die stra­te af­loop, sy­paad­jies wat nie netjies gehou word nie, ­par­kies wat ver­niel word en ons hoof­straat waar smou­se die sy­paad­jies oor­ge­neem het. Die ri­vier deur ons dorp is niks meer as ’n toe­ge­groei­de riool­ drei­ne­ring­sloot waar kri­mi­ne­le weg­kruip nie. Ons ver­keers­af­de­ling pas bykans geen wets­toe­pas­sing toe nie. Hulle het ’n gun­ste­ling­boom waar hul­le be­dags rus, ter­wyl hulle ons skool­pa­trol­lies kon by­staan en deur wets­toe­pas­sing die doel van stop­stra­te en ver­keers­lig­te in die dorp kon her­stel.

Die afge­lo­pe jaar het ons skuld aan Es­kom dras­ties toe­ge­neem en ek kan nie help om te won­der hoe lank die hof­aan­soe­ke nog sal keer dat ons die ge­vol­ge van swak be­ta­ling sal moet dra nie. Die si­tua­sie kan ook nie ver­be­ter so­lank net ’n klein per­sen­ta­sie van die in­wo­ners vir diens­te moet be­taal nie.

In­dien die mu­ni­si­pa­li­teit nie rug­graat kry en dit doen waar­voor hulle be­taal word nie, sal daar nooit weer geld wees om die dorp reg te ruk nie. Die gel­d wat wel be­taal word, is nie eens ge­noeg om die skuld te delg nie.

Die raads­le­de ver­teen­woor­dig ons as in­wo­ners en ons dorp be­hoort nie aan die mu­ni­si­pa­li­­teit nie. Ter­wyl po­li­tie­ke par­tye mekaar met raads­ver­ga­de­rings op­po­neer en elk­een probeer om sy of haar eie agen­da af te dwing, ly die ge­meen­skap ska­de.

Was dit nie vir pas­sie­vol­le in­wo­ners wat ons dorp se in­gange ver­fraai, naam­bor­de en stop­stra­te op­rig, rom­mel op­tel en die ri­vier pro­beer skoon­maak nie, sou ek lankal moed op­ge­gee het en ag­ter ’n klip gaan sit en huil het. Ek het re­spek vir elk­een wat uit eie vrye wil son­der ver­goe­ding ’n ver­skil pro­beer maak — mees­tal son­der die no­di­ge er­ken­ning. Is ons be­reid om op te staan en te help keer dat ons dorp heelte­mal ver­val of gaan ons bly wag vir ’n won­der­werk?

Ek vra maar net, want só kan dit nie aan­gaan nie.

Related Articles

Back to top button