Kobus Hoffman, Vryheidsfront Plus, Lid van Provinsiale Wetgewer: Gauteng, skryf:
Die VF Plus in Gauteng is bekommerd oor die veiligheidsmaatreëls by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg.
Gedurende ’n inligtingsessie van die nie-winsgewende maatskappy “Locked up in a foreign country” is aangedui dat 20% van alle dwelmmuile wat in 2018 op die Hong Kong-lughawe in hegtenis geneem is, vanaf die OR Tambo-lughawe vertrek het.
’n Verdere 100 manlike dwelmmuile wat sedert 2017 in Mauritius in aanhouding is, het glo ook vanaf die OR Tambo-lughawe vertrek. Kokaïne is die gewildste dwelm wat uitgesmokkel word.
Daar is sowat 800 Suid-Afrikaners in buitelandse tronke in verband met beweerde dwelmhandel.
Die VF-Plus sal die saak dringend met die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, bespreek en vra dat die aangeleentheid verder ondersoek word.
Die party sal ook vra vir ’n ondersoek na die personeel van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat na bewering betrokke is by die smokkel van dwelms.



