Die naam van die man word weerhou om die kind se identiteit te beskerm.
Volgens Greyling Lamprecht, sentrumbestuurder, het ’n kliënt die middag verby die voertuig gestap en die kind gewaar. Die kind was reeds papnat gesweet, al was drie van die voertuig se vensters op ’n skrefie oopgedraai. Die kraaie het verlede week in die dorp gegaap met daaglikse temperature bo 30°C.
Die kliënt wat die kind opgemerk het, het die veiligheidswagte om hulp genader. Volgens hom het die ouer eers heelwat later teruggekeer na die voertuig.
Nadat die voertuig uiteindelik oopgesluit is, het personeellede van die sentrum die kind met koue drinkgoed probeer kalmeer.
Lamprecht het gesê die polisie is in kennis gestel van die voorval en die man is by die inkopiesentrum in hegtenis geneem. Die man is aangekla van kinderverwaarlosing waarna die polisie hom met ’n waarskuwing vrygelaat het.
Die man sou na verwagting vandeesweek in die Bela-Bela-landdroshof verskyn het, het sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, aan Die Pos gesê.
Kenners meen dat voertuie binne 15 minute só warm kan word dat mense of diere in die voertuig kan ontwater of sonsteek opdoen, wat tot sterftes kan lei.
“Ons win tans regsadvies in oor wat ons te doen staan as so iets weer in ons parkeerterrein gebeur,” het Lamprecht gesê.
“Ons beskou dit as uiters onvanpaste optrede en beskou dit in ’n ernstige lig.”



