Local newsNews

Verbruikersforum oor kragsake gestig

“Ons het besluit om op te staan teen swak dienslewering en ’n vergadering met die munisipaliteit belê.”

Die AfriForum-tak in Mookgophong, onder voorsitterskap van Philip van Staden, beoog om verbruikers van dié dorp vanjaar met raad en daad by te staan.

Die tak het einde verlede jaar ’n verbruikersforum, bestaande uit 25 inwoners van die dorp, gestig.

Die doel van die forum is om die buitensporige kragonderbrekings op die buitelyne van die dorp te ondersoek.

“Ons het besluit om op te staan teen swak dienslewering en ’n vergadering met die munisipaliteit belê,” het Van Staden aan Die Pos gesê.

Volgens Van Staden was daar in Oktober 2019 altesame 36 kragonderbrekings en 84 onderbrekings in November op Boekenhout, Rondalia, Columbia, Grootvalley, Tobias en Tinmyne se kraglyne.

Die minimumvereistes waaraan die munisipaliteit as diensverskaffer moet voldoen is tydens die vergadering bespreek.

AfriForum het Melusi Mhlanga, munisipale bestuurder, en Phumudzo Magodi, tegniese bestuurder van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, genooi om dit by te woon.

Chris Bosch en Pieter van Staden van die onderneming EMS Lingani JV Elektrisiteit, wat elektrisiteitsrekeninge namens die munisipaliteit hanteer, was ook daar.

Magodi het tydens die vergadering beloof dat daar gereeld terugvoer oor die kragprobleem gegee sal word.

“Die kragverbruikersgroep sal tot einde Junie 2020 maandeliks met die tegniese bestuurder en verteenwoordigers van EMS vergader om die probleem op te los. Eskom se terugbetaling is op datum en daar is surplusfondse wat aangewend sal word vir opgradering. Die tegniese bestuurder sal binnekort ’n onderhoudsplan aan ons voorlê,” het Philip van Staden gesê.

Volgens Van Staden het die tegniese bestuurder erken dat daar nie tans ’n rapporteringslyn bestaan nie wat daartoe lei dat klagtes nie aangehoor kan word nie. Daar is blykbaar ook geen rekordhouding van probleme nie. “Die traagheid van die munisipale bestuurder om ’n terugvoervergadering met ons te reël, het ons verplig om die aangeleentheid op te neem met die Nasionale Energie Reguleerder van SA (Nersa) wat reeds ’n verslag van AfriForum ontvang het oor swak dienslewering sedert 2012,” het Van Staden gesê.

Die verbruikersforum het weer op Woensdag 12 Februarie ’n vorderingsvergadering gehou. Die munisipale- en tegniese bestuurder, asook Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle/ Mookgophong-munisipaliteit, het die vergadering bygewoon. Van die uitdagings is om die 200 km buitelyne in stand te hou en dit tans op die voorkeurlys te plaas, is op die vergadering gesê.

Mhlangu het aangedui dat verbruikers die korrekte prosedure vir eise op die webwerf www.mmlm.gov.za kan vind en ook hul klagtes by die munisipale kantore kan aanmeld.

Magodi het op sy beurt onderneem om die onderhoudsprogram af te handel en om maandeliks terugvoer aan verbruikers te gee. AfriForum sal die datums aan inwoners bekend maak.

Vir verdere navrae bel vir Phillip van Staden by tel. 081 330 2606.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button