Die grasgroen bane het atlete van die hoërskole Warmbad, Nylstroom, Ellisras, Hans Strijdom (Mookgophong), Frikkie Meyer (Thabazimbi), Ben Viljoen (Groblersdal) en Piet Potgieter (Mokopane) op Saterdag 29 Februarie verwelkom.
Skitterende atletiek het voor die duisende geesdriftige toeskouers afgespeel met Hoërskool Ellisras wat as wenner uit die stryd getree het met 653 punte. Frikkie Meyer en Piet Potgieter was in die gesamentlike tweede plek (637 punte) met Ben Viljoen vierde (633), Nylstroom vyfde (499), Hans Strijdom sesde (490) en Warmbad sewende (377). Volgens betrokkenes was dit een van die mededingendste interhoërbyeenkomste in jare met die topspanne wat net met enkele punte verskil het.

Hans Strijdom se atlete is beloon met die prestasiebeker wat die skool se hoeveelheid leerders en totale punte in ag neem. Frikkie Meyer het nie net die beker vir beste dirigente-opkoms gewen met hul indrukwekkende Top Gun-tema nie, maar ook met die sangbeker weggestap. Hulle eien hulself dié beker elke jaar sedert 2015 toe.

Cara Louw van Hans Strijdom, ’n o.14-spiesgooier, is aangewys as die beste veldatleet van die dag, met Kego Monawa van Ben Viljoen as die beste baanatleet vir sy prestasie in die 100 m vir o.14-seuns. Michael de Beer van Piet Potgieter was die atleet wat die beste in drie items presteer het.
Nie net was dit mooi atletiek nie, verskeie rekords het ook gespat. Amy Marnitz van Ben Viljoen het die rekord vir o.15-meisies se 90 m-hekkies geëwenaar met ’n tyd van 13.80 sekondes.
Thariro Nkosi van Nylstroom het die o.14-meisies se hoogspringrekord van 1,56 m wat in 2010 opgestel is, na 1,60 m verbeter.

Tsepang Dankuru van Ellisras het die hoogspringrekord van 1,85 m vir o.15-seuns geëwenaar.
Kego Monawa van Ben Viljoen het die 100 m-rekord vir o.14-seuns verskuif na 11,20 sekondes, asook die 200 m-rekord na 23,50 sekondes. Nog ’n Ben Viljoen-atleet, Nicole van der Westhuizen, het die rekord vir die o.17-meisies se 100 m verbeter met haar tyd van 12,20 sekondes en die 200 m-rekord met ’n tyd van 25,60 sekondes. Die 100 m-rekord het sedert 1991 gestaan.

Danél Niemann van Nylstroom het die gewigstootrekord van Corra Schoombee, wat in 1972 opgestel is (13,02 m) vir o.19-meisies, verbeter na ’n allemintige 13,45 m. Dit is die vyfde jaar in ’n ry dat sy die interhoër se gewigstootrekord laat spat. (Lees Die Pos se onderhoud met haar elders in die koerant.)
Danie Strooh van Ben Viljoen het die o.16-seuns se diskusrekord verskuif na 52,17 m en Henrique Huisamen van Warmbad het die o.19-seuns se diskusrekord laat spat met sy 46,62 m gooi.

Hans Strijdom se jong sterretjie, Cara Louw, het die o.14-meisies se spiesgooirekord flenters gegooi met haar afstand van 37,28 m.
Piet Potgieter se o.19-seuns aflosspan het nie net stof in hul teenstanders se oë geskop nie, maar ook die rekord in die stof laat byt met ’n uitstekende tyd van 42:80 sekondes.
Komplimente het wyd ingestroom vir Hoërskool Nylstroom se seepgladde aanbieding van die geleentheid wat deur sowat 6 000 gaste bygewoon is. Dié titaniese stryd tussen die Waterberg se topatlete vind aanstaande jaar op Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal se bane plaas.



