Boere span kragte saam om te help plant
“Ons groepie het besef dat oom Pierre só ernstig siek is, dat hy nie meer self sy landerye sal kan bewerk nie en daarom het ons besluit om te help.”
Die boere van die Roedtan-omgewing het bewys dat hulle nie skroom om hand uit te steek as daar hulp benodig word nie.
Toe een van die boere in die omgewing, Pierre Fourie, ernstig siek geword het, het 14 ander boere en vriende van Fourie besluit om hom by te staan en te help om die koringsaad in die grond te kry.
Fourie het egter ná ’n lang siekbed gesterf, maar daar is besluit om voort te gaan met die planne en die boere het geplant.
“Ons groepie het besef dat oom Pierre só ernstig siek is, dat hy nie meer self sy landerye sal kan bewerk nie en daarom het ons besluit om te help,” het een van die boere, wat anoniem wil bly, aan Die Pos gesê.
Die 300 ha koring is in ’n japtrap geplant. Die manne het op Maandag 17 Februarie vroegoggend begin plant en teen die aand was die saad in die grond. “Daar was nie minder nie as ses trekkers en planters en ook een hoogloopspuit in aksie,” het ’n ander boer gesê.
Louw Coetzer en Johan Hartman het ’n heerlike ontbyt gemaak vir die manne en so ook hul bydrae tot die dag gelewer.
Fourie se skoonseun, George Barnard, het vleis geskenk sodat daar teen die einde van die dag ’n braaivleis vir die boere was.
“Hardus de Beer, Hardus de Beer jnr., Louis de Beer, Pieter Niemann jnr. Philippie de Beer, Kobus Smit, Christo Smit, Karel Storm, Pieter Van Heerden, Johan Van Zyl, JP van den Berg, Louw Coetzer, Johan Hartman en Hendrik Swanepoel — julle is ysters en ware staatmakers,” het een van die boere gesê.
“Dit is presies hoe die Vlakteboere is: altyd daar om te help. Ons is so trots op julle en dankie vir dié wonderlike gebaar,” was een van die inskrywings wat op sosiale media gemaak is.



