
Santie Gildenhuys, Hoërskool Nylstroom, Modimolle, skryf:
Die bekende sportbelofte lui: “As die Groot Teller eendag teenoor jou naam skryf, skryf Hy nie dat jy gewen of verloor het nie, maar hoe jou gesindheid in die stryd was.”
’n Klompie jare gelede was daar ’n Suid-Afrikaanse buikspreker met sy pop, Tommy Thompson, wat deur die land gereis en gehore vermaak het.Tommy se gunstelingsêding was: “Keer my of ek keer myself!”
Vandag kan ons hoog in ons skik terugkyk op Hoërskool Nylstroom se skrikkeljaaraanbieding van Interhoër 2020. Keer ons of ons keer onsself, want die hele Nylstroomgemeenskap bars uit hul Nylie-nate van trots oor dié dag.
Interhoër 2020, wat saamgeval het met die skool se 80ste verjaardag, was werklik ’n vertoonvenster vir ons dorp, ons mense en veral ons jongmense se lewensvreugde en talente.
Dit was wonderlik om Hoërskool Ben Viljoen, Hoërskool Ellisras (wenners: atletiek), Hoërskool Frikkie Meyer (wenners: sang en dirigente), Hoërskool Hans Strijdom (wenners: prestasiebeker), Hoërskool Piet Potgieter en Hoërskool Warmbad te verwelkom. Die boodskappe van gelukwense en trotse meelewing stroom steeds in van almal wat hier was of selfs net die opwindende nuus verneem het.
Komplimente strek vanaf die fynste, kleinste besonderheid tot die stewigste, grootste konstruksie. Ons ontvang verblydende kommentaar oor die oulike Kwagga-muntkoeponne, die smaaklike Kwagga Koswerf-spyskaart, die grasgroen veld en bane, die netjiese ingange, die puikversorgde tuine, die imposante pawiljoene, die fantastiese gees van die singende skole, die nimmereindigende talent van die atlete, die professionele seremonies en duidelike klank en die motiverende en welsprekende aankondiger.
Almal is dit eens dat die Bosveld Interhoër van 2020 lewens verryk het, harte warm laat klop het en vir almal ’n duisend redes gegee het om hulle opnuut te verbly in die gawe van menswees.
“Bring die hoop weer terug!” pleit die sanger Joe Black. Wel, Joe, die Nylies het gehoor gegee aan jou versoek en ons prys die goeie Gewer van alle dinge wat hierdie geleentheid aan ons almal geskenk het.
Baie spesiale gelukwense aan die hoof van Hoërskool Nylstroom, Anton du Plessis, vir sy kalm en doelgerigte, afgeronde en noukeurige leiding in die voorbereidings vir die dag en die dag se verrigtinge self. René Oosthuizen, ’n oud-Nylie, was die hooforganiseerder van die dag. Haar fyn beplanning en sorgsaamheid was absoluut noemenswaardig.
Baie geluk en dankie weer eens aan elke lid van die beheerliggaam, die personeel, ouers, leerders, borge, donateurs en die gemeenskap. Dit was ’n puik spanpoging.
Hoërskool Nylstroom voel opreg dankbaar en baie nederig ná die groot sukses van Interhoër 2020.



