Die streekshof in Mokopane het hulle verlede week vir lank tronk toe gestuur.
Kagisa Brian Difeto, wat in 2016 betrokke was by verskeie rooftogte, het tien jaar tronkstraf gekry vir ’n rooftog by Markhams, tien jaar vir ’n rooftog by Jet Stores en tien jaar vir ’n rooftog by Fashion Express. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, het die hof beslis.
Ralph Mashilo en Khutso Josia Boshielo, wat ook betrokke was, is tot agt jaar elk gevonnis op drie klagtes van die besit van ongelisensieerde vuurwapens, vier jaar vir die besit van ongelisensieerde ammunisie, ses jaar vir die besit van ’n gesteelde voertuig en een jaar vir die besit van ’n toestel wat seine blokkeer oftewel ’n “jamming device”. Hulle sal effektief 14 jaar lank tronkstraf uitdien.
AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het bevestig dat die drie aangekeer is ná ’n rooftog in Mookgophong. Hulle het op die R101 in die rigting van Modimolle gevlug en is agternagesit deur AO Ross Rossouw, die ondersoekbeampte, en ander polisielede. Die mans het uit hul voertuig gespring en in Uitbreiding 10 van Phagameng gevlug waar Mashilo en Boshielo aangekeer is. Difeto is in Brits opgespoor waar hy aangekeer is. Hy is op ’n identifiseringsparade deur verskeie mense uitgeken.
- Twee mans is ook op Woensdag 26 Februarie in die Modimolle-streekshof skuldig bevind ná ’n aanval op ’n egpaar op ’n plaas buite Modimolle. Jimson Lesiba Seboye is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede. Thepiso Borombo Ndwalo, sy makker, is ook tot 12 jaar gevonnis op dieselfde klagte, asook ’n bykomende tien jaar vir verkragting. Hy is gevonnis tot effektief 18 jaar tronkstraf.



