Jong atleet laat die rekords spat
Om ’n rekord te verbeter. is ’n groot prestasie, maar om drie rekords in een seisoen te verbeter, is skitterend.
Cara Louw, tenger gr. 8-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, het sedert die begin van die jaar nie minder nie as drie rekords in spiesgooi laat spat. Sy het tydens die skool se bokkesport die bestaande rekord van 23,40 m na 36,25 m verbeter. By ’n vriendskaplike byeenkoms in Modimolle het sy die rekord van 30,56 m na 38,24 m verbeter en tydens die Bosveld Interhoër het sy die rekord van 34,96 m na ’n allemintige 37,28 m opgeskuif.
Cara, wat in die afdeling vir meisies o.14 deelneem, het reeds in haar o.12- en o.13-jaar aan die prestige Elardus Erasmus-atletiekbyeenkoms in die ouderdomsgroep vir o.14’s deelgeneem en telkens onder die toptienatlete geëindig.
“Cara het in gr. 1 begin met turbospies en toe reeds potensiaal getoon,” het haar trotse ma, Rinette Louw, vertel.
Sy het as negejarige begin om met die ysterspies te oefen en sedert haar 12de jaar is sy die nommer een spiesgooiatleet in haar ouderdomsgroep in Limpopo.
Sy het in 2018 vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap deelgeneem en ’n sewende plek behaal. Sy het verlede jaar weer vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap gekwalifiseer en negende geëindig. Sy het op dieselfde dag ook aan die 1500 m deelgeneem.
Cara het vanjaar vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap (o.15) gekwalifiseer en sal van 18-20 Maart in Boksburg deelneem. Sy neem van 25-26 Maart in die Paarl in die Wes-Kaap aan Atletiek Suid-Afrika (ASA) se kampioenskap deel.
Volgens haar mik sy nou vir 40 m. Sy het lof vir die mense wat ’n groot invloed op haar afrigting gehad het — Tobie Holtzhausen van Hoërskool Garsfontein, asook Dirk Oosthuizen, oudonderwyser van Hoërskool Hans Strijdom. Naas hulle rig haar pa en ma, Willie en Rinette Louw, haar ook af.
“Cara is n plaaskind wat hou van klip- en maroelasgooi. Ek dink dit is waar die groot liefde vir spiesgooi vandaan kom,” het Rinette gesê.
Cara is tydens die Hansies se bokkesport en by ’n byeenkoms by Hoërskool Wonderboom as Junior Victrix Ludorum aangewys. Sy is tydens die Bosveld Interhoër in Modimolle as beste veldatleet van die dag aangewys.



