Hulp gevra vir Karoo-boere
Die boere in die Karoo gaan steeds gebuk onder die knellende droogte en dié mense ondervind daadwerklike nood om hul boerderye aan die gang te hou.
Rooiberg-inwoner Jakkie Nagel en sy vriend, Ivan Trigg, se harte gaan veral uit na boere in die Fraserburg-omgewing, aangesien Nagel vir baie jare self daar geboer het. Nagel het na die Bela-Bela-gebied verhuis om gesondheidsredes.
Volgens hom word daar meestal met skape en volstruise in Fraserburg geboer. Die droogte het egter tot gevolg dat diere al gevrek het en boere moes van kernkuddes ontslae raak omdat hul nie verder voer kon bekostig nie. Hierdie inkorting van boerderybedrywigheid het ’n rimpeleffek op die hele gemeenskap.
Die boere wat nog vee oor het, beleef ’n afname in aanteeldiere omdat diere nie voldoende voeding kry nie. Dit lei tot groot finansiële druk.
Boere se gesinne en hul werkers ervaar in dié moeilike tye dat daar soms nie genoeg kos op die tafels is nie.
Nagel en Trigg het deur die webtuiste Backabuddy — Back a Karoo Farmer — ’n fondsinsamelingsprojek gestig waar die geld direk aangewend word om boere se rekeninge by die plaaslike koöperasie te vereffen of om die boere se brandstofrekeninge te help delg.
Mense wat ’n bydrae wil maak om dié boere van hulp te wees, kan vir Nagel e-pos stuur na jakkie.nagel16@gmail.com of hom bel by tel. 073 556 9754.
Besoek gerus die webtuiste www.backabuddy.co.za/champion/project/ivan-trigg of die Facebook-blad Back a Karoo Farmer.



