
Daleen Venter, Thabazimbi, skryf:
Ek wil graag begin deur te sê dat ek so dankbaar is dat Die Pos-koerant nou hul fokus hier na Thabazimbi uitgebrei het.
Ons het werklik ’n behoefte aan ’n ordentlike koerant.
Ek is beïndruk met die gehalte van julle artikels en die verskeidenheid nuus uit die Bosveld in die koerant.
Ek het ’n pakkie van die koerante by Hope-boekwinkel geneem met die idee om dit uit te deel. By die gimnastieksaal het ek vir twee kinders die koerant gegee met die opdrag om dit vir hul ouers te gee. My hart het warm geklop toe ek terugkyk en sien hoe albei seuns plat op die grond gaan sit en begin om die koerant deur te blaai.
My eie seuns se reaksie toe hulle die koerant sien, was dieselfde. Hulle het albei met ’n “Wow, maar dit is ’n ordentlike, dik koerant!” (en dit was sonder die advertensieblaaie), dadelik weggeval en begin lees.
Dit is wonderlik om Die Pos se passie vir die gemeenskap te sien in die manier hoe die koerantartikels en advertensies uiteengesit is.



