
“Ons het ’n geval gehad waar ’n inwoner ’n selfoon via Facebook gekoop het en die verkoper dit met ’n kettingwinkelgroep se koerierdiens gestuur het. Die inwoner wou die pakkie afhaal, maar het aanvanklik gesukkel om die veiligheidskode te kry sodat die pakkie oorhandig kan word. Toe sy uiteindelik die pakkie kry, was daar slegs ’n paar ou sandale in en geen teken van ’n selfoon nie,” het AO James Findlay, woordvoerder van die stasie, gesê.
Die polisie ondersoek die saak om te bepaal of die misdaad deur die verkoper of iemand by die koerierdiens gepleeg is.
Findlay waarsku inwoners om baie skepties te wees indien iemand hulle vra om ’n bedrag in te betaal.
“Mense wou al geld leen by ’n finansiële maatskappy wat geadverteer het dat hulle lenings hanteer. Hulle moes egter eers ’n bedrag inbetaal voordat die geld aan hulle geleen sou word. Kort daarna het die “maatskappy” spoorloos verdwyn en was die inwoners hul geld kwyt.”
Hy waarsku diegene in die gasvryheidsbedryf om veral versigtig te wees. Verblyfplekke het onlangs deurgeloop onder ’n persoon wat kastig verblyf bespreek. Hy vra dan of hulle vir hom geld op sy selfoon kan oorbetaal, want hy wil sy GPS gebruik omdat hy bang is hy verdwaal.
“Die persoon daag dan natuurlik nooit op vir die bespreekte verblyf nie,” het Findlay gesê.



