Saak teen Modimolle-weduwee verskuif
Die saak teen Chrisna van der Merwe (40), wat daarvan aangekla word dat sy haar man, Botes, in Desember 2018 in hul huis in die Koro Creek-gholflandgoed buite Modimolle doodgeskiet het, sal vanaf 5-9 Oktober in die hooggeregshof in Polokwane aangehoor word.
Van der Merwe het op Maandag 17 Februarie in die hof in Modimolle verskyn op aanklagte van moord en diefstal. Die saak spruit uit die skietdood van die 46-jarige Botes van der Merwe op die nag van 11 Desember 2018. Chrisna is ook op die toneel met ’n ernstige skietwond in haar maag aangetref en is per helikopter na ’n hospitaal vervoer. Die polisie het op twee wapens op die toneel beslag gelê.
Die staat voer aan dat die skietvoorval gebeur het nadat die egpaar saam met twee gaste gekuier het. Hulle is kamer toe om te gaan slaap en die gaste het kort daarna skote gehoor. Die staat beweer dat Chrisna haarself geskiet het.
Die diefstalklag spruit uit R141 000 wat sy glo 10 dae ná Botes se dood uit sy rekening onttrek het. Hy was die eienaar van Botes Hunting Safaris waarvan die kliënte meestal buitelandse jagters was. Die egpaar kom oorspronklik van Vaalwater.
Landdros Hannes Stofberg het Chrisna gewaarsku om in Oktober in die hof te verskyn. Sy word nie as ’n vlugrisiko beskou nie.
Sy word verteenwoordig deur die gerekende regsverteenwoordiger dr. Llewelyn Curlewis. Die verdediging het verdere besonderhede oor die ondersoek aangevra wat deur die staat verskaf sal word.



