Drie mans is verlede jaar op Woensdag 4 September in hegtenis geneem kort nadat hulle ’n witrenoster in die Rankinspas-omgewing geskiet het. Skaars vyf maande later het die hofproses sy loop geneem en is hulle stewige vonnisse opgelê.
Simon Sithole (42) is tot 20 jaar agter die tralies gevonnis nadat die hof in Modimolle bevind het dat hy die renoster geskiet het. Hy was ten tyde van sy in hegtenisname in besit van renosterhoring, ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Thulani Mhlongo (32) en Felix Fransisco Udaka (37) is elk tot vier jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle aangekeer is in ’n voertuig waarin die polisie renosterhoring gevind het. Udaka, ’n Mosambiekse burger, is daarvan aangekla dat hy onwettig in die land was.
Dié suksesvolle in hegtenisname en vervolging het gevolg nadat die polisie en gemeenskapsveiligheidsgroepe ’n grootskeepse soektog op tou gesit het kort nadat daar ontdek is dat ’n renoster gestroop is. Die hulp van helikopters en vliegtuie is ook ingeroep om die skuldiges aan te keer.
Die voorval het kort voor Wêreld Renosterdag op 22 September verlede jaar gebeur. Die doel van dié dag is om bewusmaking te skep oor die bedreiging wat stropery vir dié diere inhou.



