Noah Murimo (36), Eunice Chiruvani (40) en Daniel Manyimo (30) word van huisroof en die besit van gesteelde eiendom aangekla, asook dat hulle onwettig in die land is.
Al drie verdagtes is van Zimbabwe. Murimo en Chiruvani het vir Pretorius gewerk.
Pretorius is helder oordag deur een van die verdagtes in sy huis oorval. Die verdagte het glo ’n vuurwapen by hom afgeneem en ’n skoot afgevuur, maar niemand is getref nie.
Die polisie het destyds gesê twee vuurwapens is gebuit voordat die verdagte op die vlug geslaan het. Hy is egter kort ná die voorval saam met die twee werkers in hegtenis geneem.
Die drie buitelanders se saak is uitgestel na Woensdag 15 April vir verdere ondersoek. Hulle is steeds in aanhouding.
- Vier vermeende klerewinkelrowers, Lerato Kgomo (33), Zandile (33), Sibusiso Hlatswayo (31) en Tshepo Mahlangu (33), wat glo die Exact-klerewinkel in Bela-Bela op Donderdag 8 Augustus beroof het, se saak duur ook voort in Modimolle.
Klerewinkels in Chris Hanistraat, waar Exact geleë is, het die afgelope jaar verskeie kere onder rowers deurgeloop.
Volgens die polisie het die verdagtes die winkel op die betrokke dag betree, die personeel aangehou en vasgebind en daarna met ’n aantal selfone en ander items uitgestap.
Die verdagtes het glo aanvanklik in twee voertuie — ’n wit Volkswagen Polo en ’n swart Citi Golf — uit Bela-Bela probeer vlug. Die een groep verdagtes is naby die Maubane-afrit vasgetrek. Die wit Volkswagen is nooit opgespoor nie.
Die vier staan tereg op aanklagte van roof en besit van gesteelde eiendom. Hulle moet weer op Woensdag 25 Maart in die hof verskyn. Hulle is steeds in aanhouding.
- Twee verdagtes wat op Donderdag 20 Februarie met ’n gesteelde Nissan NP 200-bakkie in Bela-Bela betrap is, se saak duur voort in Bela-Bela. Die voertuig is volgens die polisie in Januarie in die Rotterdam-gebied, oos van Giyani, gesteel. Thomas Makhubela (33) en Simon Makgatho (42) is aangekla van die besit van ’n gesteelde voertuig. Hulle saak kom weer op Woensdag 25 Maart voor en hulle is ook steeds in aanhouding.
- ’n Ethiopiër, Dilebo Anbiko (31), is op Woensdag 19 Februarie aangekeer nadat hy glo ’n ongelisensieerde vuurwapen in die Bela-Bela-township in ’n erf probeer begrawe het.
’n Ooggetuie het glo gesien hoe Anbiko die wapen begrawe voordat hy van die toneel verdwyn het.
Borgtog van R1500 is aan Anbiko toegestaan. Die ondersoek duur voort en die hof wag op ’n forensiese verslag. Sy saak kom weer op Donderdag 30 April voor.



