NewsSchools

Teleurstelling oor Hansieweek

Die onverwagse aankondiging van pres. Cyril Ramaphosa dat skole twee dae vroeër sluit vir die vakansie, het onderwysers en leerders onkant gevang.

Die personeel by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong was in rep en roer en moes met planne vorendag kom om vir leerders vakansiewerk vir die komende langer vakansie te gee.

Die grootste teleurstelling vir die skool is ongetwyfeld die uitstel van die bekende Mauritz Hansen-rugbyweek, beter bekend as die Hansieweek, wat van 24-29 Maart by die skool sou plaasvind. Dit is jaarliks ’n groot finansiële inspuiting vir die skool én die dorp.

Die Hansieweek is voorlopig na 30 Junie tot 4 Julie 2020 geskuif.

“Dit is vir my ’n groot teleurstelling, want ek het die afgelope ses maande aan reëlings vir hierdie groot geleentheid gewerk,” het Rudolph de Vos, organiseerder van die week, aan Die Pos gesê.

Verskeie skole het reeds deposito’s betaal en hul skoolkalenders dienooreenkomstig opgestel. Daar is wel skole wat reeds aangedui het dat hulle die week in die Julie-vakansie sal bywoon, indien dit sou voortgaan, het hy gesê.

“Die uitstel van dié week het ’n reuse finansiële impak op die skool. Die skool het reeds uitgawes aangegaan. Die inkomste van die Hansieweek vorm deel van ons jaarlikse begroting wat nou ’n ekstra las op die skool sal plaas,” het Rinus de Jager, hoof, gesê.

De Jager het verder gesê ander projekte, soos die laerskole-rugbyweek wat beplan word, sal gebruik word om die verlies te verhaal. Hy het ook sy spyt uitgespreek dat die ATKV alle redenaars- en debatskompetisies vir die jaar gekanselleer het. “Ons sal maar moet sien wat van die ligawedstryde word,” het hy gesê.

Matriekleerders is ook bekommerd dat die besluit om skole vir ’n langer tydperk te sluit, hul voorbereiding vir die eindeksamen, en selfs hul planne vir hul studies aanstaande jaar, kan beïnvloed.


  • Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter

Beste leser,

As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.

Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.

Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button