Tehuis neem talle maatreëls om sy bejaardes te beskerm
Die omstrede Corona-virus en die gevaar wat dit vir bejaardes inhou, word nie ligtelik by die Naboom Tuiste vir Bejaardes in Mookgophong opgeneem nie.
Die Pos het daar gaan inloer om te sien watter voorsorgmaatreëls getref is om die bejaardes so ver as moontlik teen die virus te beskerm.
“Die eerste stap was om die inwoners tydelik in isolasie te plaas. Daarmee saam het ons voorkomend begin optree deur besoekers te “ontsmet” met handreiniger voordat hulle die gebou betree en ook register te hou van besoekers,” het Hercules Louw, bestuurder van die tehuis, gesê.
Daar is ook ’n vertrek ingerig waar besoekers met inwoners kan kuier sonder dat hulle met die res van die inwoners in aanraking kom. Slegs die inwoners mag in die eetsaal kom en die vertrek is afgesper. Volgens Louw kom die personeel soggens met hulle privaat klere werk toe en word dan met uniforms uitgerus wat deur die tehuis gewas is. Hulle het ook ’n ontsmettingsmiddel wat 80% alkohol en 20% seep bevat waarmee hulle die hele gebou ontsmet.
Hoewel die tehuis gewoonlik skoon gehou is met hierdie skoonmaakmiddels, is dit tans verskerp om te verseker dat daar nie enige plekke is wat ’n moontlike risiko vir die inwoners inhou nie. “Ons het elke oggend 15 minute lank opleiding om die vorige dag se probleme aan te hoor en op te los,” het hy gesê.
Daar is tans slegs een ingang en dié word deur ’n persoon beman wat seker maak die sanitasie-roetine word toegepas en gehandhaaf. Indien ’n geval binne die tehuis sou voorkom, sal die register kan aandui wie die dag daar besoek afgelê het. Die tehuis het ook twee termometers, soortgelyk aan dié wat by die lughawens gebruik word, bestel om besoekers by die ingang te toets.
“Dit klink dalk asof ons oorreageer, maar ons het tans 16 inwoners wat ouer as 90 jaar is en twee wat ouer as 100 is en ons kan hulle nie blootstel aan die moontlike gevare nie,” het Louw gesê.
- Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter
Beste leser,
As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.
Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.
Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.



