Pasiënte kan hul Corona-virusstatus vinnig bekom
Teen druktyd op Woensdag 17 Maart was daar reeds 116 Suid-Afrikaners met die Corona-virus (COVID-19) gediagnoseer.
Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NICD) het gesê Limpopo het reeds een bevestigde geval — ’n mediese dokter van die Laeveld wat vroeër na Europa gereis het. Die dokter is reeds in isolasie geplaas.
Die NICD, die nasionale gesondheid- en laboratoriumdiens (NHLS), asook private laboratoriumdienste het reeds meer as 2 405 toetse op pasiënte gedoen wat moontlik met die virus besmet is, lui die NICD-verklaring.
Pasiënte het die keuse om die toetse by privaat laboratoriums te laat doen waar die uitslae binne 48 uur beskikbaar is, of hulle kan die toets gratis by ’n staatshospitale laat doen.
Volgens dr. Nicola Havemann van Bela-Bela, wie se praktyk reeds mense getoets het wat vermoed het dat hulle die virus onder lede het, sluit die simptome ’n kombinasie van koors, moegheid, ’n droë hoes, pyn, erge sinus, ’n seer keel en/of diarree in.
Havemann meen dat selfs een simptoom ’n persoon moet laat oorweeg om mediese hulp te soek.
Mense wat in die laaste 14 dae na hoërisiko lande soos Italië, China, Iran, Engeland, Ierland en Suid-Korea gereis het, of met iemand van hierdie lande in kontak was, of simptome toon, moet verkieslik getoets word, het Havemann gesê.
Mense wat nie aan bogenoemde kriteria voldoen nie, sal weggewys word, maar word aangeraai om hulself onder kwarantyn te plaas en hul dokter te skakel indien hulle van die simptome ervaar.
“Die siftingstoetse is eenvoudig. Die dokter neem ’n monster van agter in die keel en binne die neus.
Nadat bloedmonsters getrek is, word dit weggestuur om getoets te word,” het sy gesê. Sy het gesê plaaslike praktyke het reeds bestellings geplaas vir siftingstoetse wat resultate binne ’n paar minute aan die pasiënt kan gee. Pasiënte wat positief toets vir ’n Corona-virus, word dan verwys na sekere ingerigte sentrums om vas te stel of hulle die Covid-19-virus het.
Havemann het gesê sommige mediese fondse dek wel die toetse.
- Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalterBeste leser,
As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.
Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.
Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.



