
Dit is dieselfde huis waar hy op Vrydag 20 Maart aan die hand van gewetenlose moordenaars gesterf het.
Volgens René van Zyl (73), sy vrou, het vier mans net voor 24:00 op Donderdag 19 Maart toegang tot hul huis verkry. Hulle het die gaas op die stoep stukkend gesny en vermoedelik eerste na Alwyn se kamer gegaan. Die egpaar het in aangrensende kamers geslaap weens Alwyn se gesondheidstoestand wat geverg het dat hy snags suurstof moes ontvang.
“Ek het wakker geword toe hulle die deur na my kamer oopgeskop het en toe ek my oë oopmaak, was twee van die mans by my bed. Hulle het my opgetel en op die vloer gegooi. Ek het my lyf in ’n bondeltjie gehou en nie probeer baklei nie. Ek is van nature ’n vegter, maar die Here het my weerhou daarvan, wat ek glo ook my redding was,” het René aan Die Pos vertel. Een van die mans het haar met die vuis op die rug geslaan en die ander een het haar telkemale deur die gesig geklap en geld en wapens geëis.
Sy het volgehou dat hulle nie enige geld of wapens het nie. Een van die mans het ’n mes by hom gehad en het dit deurentyd teen haar lyf gedruk. Toe hulle agterkom dat sy na hul gesigte gekyk het, het hulle haar kop bedek en haar hande met skoenveters agter haar rug vasgebind. Haar voete is ook vasgebind. “Ek het gesukkel om asem te kry en het gespook om die lap oor my mond losser te wikkel sodat ek kon asemhaal,” het sy vertel.
Intussen het hulle die kaste uitgegooi op soek na geld en wapens. Een van die mans was toe reeds in Alwyn se kamer doenig. “Ek kon my hande loswikkel en het my voete ook losgekry, maar dit vir hulle probeer wegsteek. Ek het hulle beduie na ’n beursie met vervalste note en hulle het die kamer verlaat. Ek het toe die geleentheid gekry om uit te kruip tot by die hekkie na die werkershuise toe. Ek het geweet dat hulle my nie in die bosse sal kry nie, want ek ken dit te goed,” het sy vertel.
René Briel, die egpaar se oudste dogter, en haar man, Kobus, en hulle twee kinders woon op ’n aangrensende deel van die plaas. Volgens haar het sy teen 00:20 ’n telefoonoproep van een van die plaaswerkers, Andreas Banda, ontvang. “Ek het my ma in die agtergrond gehoor en hy het net gesê dat ons moet kom help en dat twee van die mans nog by my pa in die huis was en dat sy weggekom het,” het René (Briel) vertel.
Kobus het dadelik gereageer en die naaste buurman, Data Strydom, gebel. Die twee mans was gelyktydig op die toneel en het waarskuwingskote geskiet en daarna die huis gefynkam. Die rowers was toe reeds weg. Hulle het op Alwyn se liggaam afgekom waar hy vasgebind in sy bed gelê het. Daar was ’n kussing oor sy kop waarmee hy vermoedelik versmoor is.
Die rowers het net met selfone, ’n kamera, verkyker en stapskoene, wat hulle in rugsakke van René (snr.) gepak het, gevlug. Die sakke is later op verskillende plekke gevind nadat die rowers klaarblyklik verskillende rigtings ingeslaan het.
Intussen het René (Briel) alle veiligheidsgroepe in kennis gestel en die eerste hulp het binne 15 minute opgedaag. Lede van die Heritage Protection Group (HPG) het dadelik begin om spoor te sny. Teen ligdag het drie helikopters en ’n vastevlerkvliegtuig die gebied begin fynkam. Die rowers het in die rigting van die township beweeg en honderde boere en inwoners van die dorp het paaie afgesper. Teen 09:15 is drie van die verdagtes aangekeer en in hegtenis geneem. Die vierde een is nog op vrye voet, maar die polisie is druk op sy spoor.
Die gesin is steeds verslae oor die gebeurtenis. Die egpaar se oudste seun, Louis van Zyl, woon in Australië met sy gesin en probeer nog om ’n vlug te kry vir die begrafnis wat op Vrydag 27 Maart by die Badseloop-kampeerterrein sal plaasvind. Hul jongste dogter, Louise, woon in die Kaap en word ook weens die Covid-19 maatreëls verhinder om vryelik te reis. Die egpaar se jongste seun, Jan van Zyl, is ’n bekende boer van die Crecy-omgewing.
Die van Zyl-familie is sedert 1885 op die plaas. Alwyn van Zyl was die vierde geslag wat op die plaas gewoon en geboer het.
Die afgelope sewe jaar was hy die bestuurder van die Badseloop-jeugkampterrein. Dit is ook daar waar hy en sy vrou, René, wat ’n onderwyser by Hoërskool Hans Strijdom was, mekaar ontmoet het. Hulle sou op Saterdag 28 Maart hul 50ste huweliksherdenking gevier het. Volgens René (snr.) is die kliphuis in 1886 deur Jan Kasper Gerhardus van Zyl gebou. “Ons woon in die paradys,” het ’n hartseer René (snr.) gesê.
Die hele gesin het groot lof gehad vir die bystand en optrede van almal wat hulle te hulp gesnel het. “Die polisie, ambulansdiens en gemeenskap was fantasties en ons wil graag elkeen bedank vir wat hulle vir ons gedoen het,” het René gesê.
“Alwyn sal onthou word vir die saggeaarde, liefdevolle mens wat hy was,” het Gerhard Steenkamp, ’n vriend gesê.
- Die drie mans wat aangekeer is, verskyn vandag (Maandag 23 Maart) in die hof. Hou Die Pos dop vir meer besonderhede.



