Moedelose leser, Mookgophong, skryf:
Die munisipaliteit se park, wat eintlik net ’n oop stuk grond langs die munisipale kantoor is, is ’n nagmerrie.
Die grond het niks anders as ’n informele nedersetting vir hawelose mense geword.
Die veiligheidswagte tree baie gou tussenbeide as ’n inwoner durf kapsie maak teen die onhigiëniese toestande wat daar bedryf word omdat daar geen sanitasie- of toiletgeriewe is nie. Volgens die wagte het die mense toestemming van die munisipaliteit om daar te woon.
Die polisie is al verskeie kere ingeroep en reageer wel op die klagtes, maar die mense word nie verwyder of vervolg nie.
Hulle maak oop vure, strooi rommel, want daar is nie vullishouers nie, drink spiritus en tree skaamteloos op.
Daar was verlede week ook ’n voorval waar ’n man verskeie kere met ’n mes gesteek is. Die inwoners se veiligheid is in die gedrang.
Ek het ’n skrywe aan die burgemeester gerig, maar wag nog vir ’n antwoord.



